Johannes 6:66 sê dat baie dissipels omgedraai het en nie
meer saam met Jesus gegaan het nie. Hierop reageer Jesus
en vra in vers 67 vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”
Dan volg een van die aangrypendste antwoorde in die hele Bybel.
Dit is eintlik ‘n belydenis. “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die
woorde wat ewige lewe gee.” – Joh. 6:68. In eie vertaling: “Here,
na wie toe anders sal óns gaan? Waarheen en vir wat? Ons is op U
alleen aangewys. U praat die woorde van die ewige lewe.” Dus:
U ken die koers. U weet waarom dit gaan.
Simon Petrus het besef die mens het eintlik net een keuse:
óf ons kies Christus met al die uitdagings en probleme van hierdie
keuse. Die probleme van verstaan en nie verstaan nie. Met al die
menslike geloof en tye van ongeloof en kleingeloof. Die volle
“waagstuk” met God.
Of,... ons kies die gapende afgrond van niks. Die donkerte van totale
chaos. Die verwarring van die volle besef van sinloosheid. Geen doel,
geen plan, geen betekenis hoegenaamd nie.
Die volgelinge wat Jesus verlaat het, het na hulle huise teruggekeer en
gesê hulle het verwagtings gehad wat glad nie ontmoet is nie. Hulle gaan
liewers voort met hulle daaglikse bestaan na nêrens. Die klompie dissipels
wat gebly het, het seker aangevoel dat hulle die “moeilike” keuse gemaak
het. Hulle Leier doen vreemde dinge en sê nóg vreemder dinge!
Maar Petrus hulle het ook aangevoel dat die ander opsie net chaos is...
Die opsie vir Christus is geen maklike opsie nie, maar dit is die keuse wat
besef dat daar meer aan die lewe is as die hier en nou. Hulle geestelike oë
het oopgegaan en hulle het die onsienlike gesien. Dit laat hulle vers 69 bely:
“En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
Hierna sou die dissipels groot dinge saam met Jesus meemaak en deurmaak.
Ook verskriklike dinge. Want die verraaier was ook saam met hulle, vers 71,
hy wat een van die twaalf was.
Maar hierna was hulle Christus s’n. En Christus was hulle s’n.
In sy lig kon hulle deur elke donkerte worstel. Soos ons ook kan...
Ernest