Jesus het in die tempel geleer. Nogal tot verbasing van
die geleerdes en owerstes wat Hom gevange wou neem.
Hy het tevore geleer oor brood. Nou praat Hy weer, soos
met die Samaritaanse vrou, oor water. Johannes 7:38:
“Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome
lewende water sal uit sy binneste vloei.” Strome water!
Seëninge! Dit sal uit die binneste vloei van die een wat glo.
Vers 39 sê: “Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die
mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang...”
Die Heilige Gees is die Gees van die Vader en die Seun.
Waar Jesus God mét ons is, is die Gees God ín ons.
Dit bring oorvloed van geloof.

Dit gebeur dikwels dat mense min of meer in dieselfde omgewing
diep boor vir water. Party mense boor dan water raak wat so sterk
is dat dit letterlik spontaan vir dae uit die gat borrel. Ander boor min
of meer in dieselfde omgewing tevergeefs vir water. Hulle kry glad niks.
Hulle kry nie ‘n aar wat hulle kan raak boor nie. Hierdie beeld spreek
ook ten opsigte van die Bronaar van die lewe. Die Bronaar van lewe
word sterker en intenser in mense wat glo. Dit vloei spontaan deur
hulle en uit hulle, ook tot versterking van ander. ‘n Mens met min of
geen geloof is soos die plek waar geen aar raak geboor word nie.
Daar is nie strome lewende water wat vloei nie.

Water is lewe. Ons sien dit soms as ons in die veld loop na reën.
Ons sien hoe water spontaan uit rotse loop en stroompies maak
wat groter strome maak en nog groter strome maak...
Dit is ‘n beeld van wat Jesus bedoel: “Strome lewende water sal uit
sy binneste vloei.” Ons moet gedurig bid dat die Gees van Christus
deur ons stroom. Dit is hoe God “deur ons vloei”. Anders is ons soos
‘n boorgat wat droog is.
Mag daar strome lewende water uit jou binneste vloei!

Ernest