“Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip
op haar gooi.” – Joh. 8:7. Dit verbaas ‘n mens hoe maklik ons
“morele” misdrywe van ander mense aan die groot klok kan hang.
Dit is meestal nuus wat aangedra is deur mense wat ook maar nie
alle morele toetse slaag nie. Eintlik maar ons almal...Van voor en
sedert Jesus het mense nie verander nie. Ons is in talle opsigte
steeds vrome Fariseërs wat maak of die wet ons erns is. Tog hou
ons van die sappige insident... Waarskynlik omdat ons iets van
onsself daarin herken. Dit word dan aan die ander se voordeur
gehang. Matthew Arnold het gesê baie mense se hoë moraliteit
strek oor die hele stad, maar stop dan by hulle eie voordeur.

Die tempel base het ‘n vrou voor Jesus gesleep wat volgens wet
gestenig moes word. Hulle sê toe hulle weet presies wat die wet sê,
maar hulle wou graag weet wat Jesus sê. Dit is ‘n uitstekende strik
wat hulle vir Jesus stel. Jesus skryf op die grond. Ons sou wat wou
gee om te weet wat Jesus daar in die grond geskryf het...
Daarna gee Hy sy beroemde woorde: “Laat die een van julle wat ‘n
skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” Hulle verdwyn soos
mis voor die son. Die familiehoofde eerste... volgens vers 9.

Niemand bly oor nie, behalwe die vrou. Jesus se beroemde vryspraak volg.
Dit is net Goddelike wysheid wat ‘n situasie en motiewe so raak kan opsom,
wat mense so goed ken, wat dwarsdeur hulle sien. Daar is pure majesteit in
hierdie woorde: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan maar... en moet van nou af
nie meer sonde doen nie.” Jesus is die Meester en die regter. Vol Goddelike
wysheid, insig en genade. Ons kan Hom net dank dat Hy ons God is. Dat Hy
gekom het. Ons kan net bid vir strome van seën en genade en wysheid wat
deur sy Gees uit óns binneste sal vloei.

Ernest