Eksodus 20:21: “Die volk het op ‘n afstand bly staan,
maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.”
Nadat Hy die basiese beginsels van die wet vir sy volk uitgespel het,
is God gereed om sy wette verder te verduidelik. Maar die volk het
genoeg gehad: Moses moes liewers namens hulle met God praat.
Toe gaan Moses na die “donker wolk waarin God was”.
Ons sien hier die ander kant van God wat lig is en Jesus wat Homself
die lig van die wêreld noem. Hier verberg God Hom in die donkerte
van ‘n donker wolk wat vreemd en ontsagwekkend oor die berg hang.
Dit wil vreemd voorkom. God het Hom teruggetrek. Hierin gaan Hy
met die leier van sy volk kommunikeer oor sy mense en die leiding
van hulle na die beloofde land.
Moses gaan nader. Hy het God al by die brandende bos en op ander
plekke ontmoet. Nou gaan hy die donker binne “waarin God was”.
Die Here verskyn in baie vorme en maak Homself bekend op ‘n groot
verskeidenheid van maniere. Hier verhul God Homself. Dit kom voor
as teenoorgestelde waarhede van God wat mekaar weerspreek, maar
daar is baie. Dit vul mekaar telkens aan as eenheid: God is liefde, en
Hy oordeel. God is lig en donker. God is wet en genade. God vra respek,
en omhels in liefde.
Baie van ons bevind onsself dikwels voor ‘n donker wolk in ons lewe.
Soos Moses voor hierdie donker wolk. Jy ken God, maar staan ook weer
voor ‘n nuwe ontmoeting en groei in Hom. Jy gaan ook deur donker dieptes,
Psalm 23:4, maar God is dáár, en jy hoef nie bang te wees nie. Jy moet soos
Moses daarin, en daardeur. Want juis dáár praat God met ons. In die donker
is ons ekstra opmerksaam, luister ons baie fyner. God se donker is meestal
‘n teken dat jy ekstra aandagtig moet luister. Hy wil met jou praat en Hy wil
jou lei. In die donker besef jy veel meer jou afhanklikheid van God. Hy wil jou
dan ook verseker van sy nabyheid. Hy wil hê dat jy juis dan doelbewus jou
hand in syne sal plaas en toelaat dat Hy jou tree vir tree na die nuwe lig lei!
Ernest