Ons wil dit nie hardop sê nie,
maar soms voel ons tog só.
Dat die Here my vergeet het….

Psalm 42:10:
“Ek wil vir God sê: “My Rots,waarom het U my vergeet?”

Dit voel of jy in ‘n vloedstroom saamgesleur word.
Losgeruk van alles, buite beheer.
‘n Slagoffer van iets waarvoor jy nie eers verantwoordelik is nie.
Meegesleur deur omstandighede wat jy haat.
Uitgelewer….vers 8:
“waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.”
En jy smag na God,
“soos ‘n widsbok smag na waterstrome.” Vers 2.

Op en af fluktueer jou gemoedstoestand.
Jy huil dag en nag trane, sê vers 4.
Jy is in vertwyfeling en kerm, sê vers 6.

En dan is dit asof jy weer tot jouself kom en onthou
dat jy dit dan juis so pertinent in jou vraag uitgeroep het:
“My Rots,…..”
“My Rots, waarom het U my vergeet?”
Vertrou op God.
Jy weet mos hy is jou Rots.
Dit is asof die meesleurende stroom jou teen die Rots vasspoel.
Vers 9: “Tog sal die Here…sy trou laat blyk…”

Ons kan só goed met hierdie Psalm identifiseer.
Hierdie Psalm begin met trane, en eindig in sekerheid.
So loop die Here ook met ons.
Jy sal weer ‘n loflied sing!
Jy sal!
Hou vas aan vers 12:
“Waarom is ek so in vertwyfeling,
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.
Hy is my helper en my God.”

Ernest