“Ek, die Here, stuur ‘n engel voor jou uit om
jou op die pad te beskerm.” – Eks. 23:20.
Dit is ‘n wonderlike belofte en ‘n geweldige troos wat God
in bogenoemde vers vir die volk gee. Die engel sal “jou na die plek
bring wat Ek vir jou reggemaak het. Gee ag op die engel.” - v 20-21.
Dit is die bewarende engel van God, die verkennende engel van God,
die waarskuwende engel van God, die vegtende engel van God.
Sou hierdie engel net die pad vir hulle gelyk maak, en gerieflik maak?
Sou hierdie engel hulle net by plekke van vrede en rustige waters bring?
Die teenoorgestelde is waar: God waarsku Moses wat hulle te wagte kan
wees. “My engel sal julle bring by die Amoriete, Kanaäniete, Hewiete,
Jebusiete” – almal vyande van die volk van God, almal wat die lewe van
die volk vir hulle haglik sou probeer maak.
Een groot feit kom telkens na vore in die vorming van God se volk en sy
mense: Hulle word nie stryd en storms gespaar nie. Hulle word juis in sulke
krisisse ingelei en geslyp. Maar die engel van God gaan voor hulle uit. God is
nie ingestel op ons gerief nie, maar vorm ons karakter!
In hierdie verband is Eksodus 23:30 baie belangrik: “Ek sal hulle bietjie vir bietjie
voor jou uit verdryf...” Mense wil gereeld weet hoekom die lewe soms so hard is?
Die vyande so baie? Die teenstand so groot? Hoekom werk God so “stadig”?
God sê hier in vers 30 dat Hy sy volk se vyande “bietjie vir bietjie” voor hulle uit
verdryf. Die Here se metode is nooit haastig nie. God is ewig. Hy werk in sy tyd.
Die Romeinse digter, Vergilius, het gesê dat Rome gebou is die dag toe die eerste
steen gelê is. Die beginsel was daar. Die res sou volg. So werk God aan sy skepping
en sy volk. So werk Hy met ons.
Om te verwag dat God in ‘n kits met ons te werk, omdat ons in die tyd van
“kitsoplossings” leef, is om teen die ganse skeppings beginsel in te gaan.
Dit is soos om so gou as moontlik vir jou kind al die duurste geskenke te gee.
Jy ontsê jou kind die najaag van ‘n droom, die vorming en groei wat in tyd plaasvind,
die aanleer van geduld as vrug van die Gees, om te volhard in die lewe, om te veg vir
koers en sin, om waardes te verstaan...
Die Israeliete sou baie kla oor wat hulle moes ontbeer. Hulle sou die lang pad van
groei en vorming moes loop deur die woestyn, eerder as die kortpad van eiesinnigheid
en selfsug. Hulle sou moes leer om God te volg, en nie hulle eie koppe nie.
Hoe hard leer ons nie nog steeds nie...?
Soos die Israeliete moet ons steeds leer dat God bietjie vir bietjie aan ons vorm en bou.
Ons kan net soveel op ‘n slag vat. Ons is te swak. Maar “bietjie vir bietjie” sal ons ook
vorder. “Bietjie vir bietjie” sal ons naderkom aan die doel wat God vir elkeen van ons het.
“Bietjie vir bietjie” sal ons besef dat ons wen...omdat Christus oorwin het!
Ernest