“Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep.
Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir die Israeliete gelyk
soos ’n gloeiende vuur op die berg.” – Eks. 24:16-17.

Wanneer ons deur die Bybel lees, tref talle groot teenstellings ons.
Teenstellings wat vreemd voorkom. Maar uiteindelik vorm dit ‘n
geweldige eenheid van patroon: God is die ewige onmeetlike. In Hom
vind die mens nie ‘n greep op Hom nie. Ons kry Hom nie “onder beheer”
nie. Soms onversoenbare fasette van helder deursigtigheid en volmaaktheid
wat terselfdertyd net soveel versluier as wat dit verklaar. Hoe dan anders,
as ons net weer besef ons het met die lewende God te doen, die enigste God,
Skepper van hemel en aarde. Hoe anders as ons werklik “diepsinnig” met God
wil omgaan!? Hy is immers God! Die Here! “Jahwe”! Hy maak Homself vroeër
aan Moses bekend as: “Ek is wat Ek is”!

Eers is die Here in ‘n donker wolk. Hier is Hy nou weer in die lig. In ‘n wolk
“soos ‘n gloeiende vuur op die berg.” Wat is ontsagwekkender? Die duisternis
of die gloeiende vuurwolk? Maar Moses moet weer daar in.
Let op: Op die sewende dag eers, het die Here uit die wolk uit na Moses geroep.
God roep Moses nader. Hy het verder teen die berg opgegaan as geroepene van
God in die krag van sy wysheid, leierskap en geloof wat God gee. Hoe verdwerg
moet Moses nie wees daar teen die berg op pad na die wolk van gloeiende vuur
nie?! Moses op pad na God vir ‘n ontmoeting wat intiemer en dieper en groter
is as die brandende bos van lank tevore.

Moses kry nie sy opdragte gerieflik op sy bed in sy tent en in sy slaap in ‘n droom
nie. Hy moet in sy nietigheid teen ‘n berg “worstel” na die teenwoordigheid van
God toe. Ontsagwekkend. Ons lees nêrens dat Moses leerstellinge uitdink nie.
Hy moet moeisaam teen die vuurberg opgaan om God se instruksies te hoor.

Ons dink soms God “weet nie” van ons worsteling teen die berg op in ons eie
lewe nie. Dat ons worstel in die donker of in die vuur van die lewe nie... Soekend,
op pad na God en sy omgee-liefde. Ons begin selfs twyfel of Hy omgee. Of Hy is
wat Hy sê Hy is. Dit is juis dan wanneer ons meestal sy verskynings beleef.
Want in die vuur en die donker van die lewe roep Hy ons nader, om besonder
naby aan Hom te leef. Hy is immers heeltyd by ons! In ons deur die Gees!
Ons ontmoet nie net vir God in ons eie gerief nie,
maar veral ook in ons worsteling...

Ernest