“Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self
hoe sleg die volk is.” – Eks.32:22. Teenoor God staan die mens met
sy voorspelbare gedrag. Verskynsels van hoogtes en dieptes. Van goed
en kwaad. Dink net mooi: Hierdie volk is gered deur God. Gered!
Toegespreek deur God. Hulle het ja en amen gesê op die wet van God.
Hulle het met tamboeryne gedans voor God. Maar toe Moses sy rug draai
teen die berg op en net te lank na húlle sin wegbly, veertig dae by God,
raak hulle ongeduldig! En wat doen hulle? Gou-gou maak hulle ‘n ander god...
En rondom dié god, ‘n goue kalf wat die priesters, van alle mense, uit goud
gemaak het, dans hulle met kultiese sang en feesviering – vers 18.

God was vertoorn... Moses was self woedend en gooi die kliptafels stukkend.
Aäron het sy skouers opgetrek: “U weet self hoe sleg die volk is.”
Dit is dus húlle skuld. Hy verplaas óók skuld...”blame shifting”. Aäron,
wat saam met Moses voor die Farao gestaan het en die praatwerk moes doen,
het hom nou glo deur die volk laat lei...

Dit is ‘n ou verskoning van mense en leiers. Toe Hitler sy eie volk byna
vernietig het, het hy in een van sy heel laaste briewe geskryf die Duitsers is
so sleg dat hulle nie verdien om voort te bestaan nie! Aäron vertel self ‘n gek
onwaarheid: dat hy die goud in die vuur gegooi het “en die bulkalf het daaruit
gekom”! Hoe kan ons nie onsself verontskuldig nie...!

Dit is vandag nog so in volke, kulture en selfs kerke, ja, in ons eie lewe, dat ons
goue kalwers maak en stories daaroor loop en verkoop. Ons vergeet so maklik
die ware God en maak ons eie “gode”. Ons loop agter vals teologieë aan. Ons
begin ook ons eie “goud” aanbid, dit waarvoor óns so hard werk, of verskeie
moontlike dinge wat eenvoudig net vir ons belangriker raak as God.

Wat trek op die oomblik my aandag van God af weg? Wat het vir my belangriker
geraak as God? Het ek vergeet van die wonderdade van God in my lewe?
Watter ander uitweë soek ek as dit lyk of God te lank “wegbly”? Hy is al die tyd
in sy wolk op die berg. Die sigbare wolk vir die volk. Kyk hulle dan nie net op na
die wolk nie? Is dit ons probleem? Mý probleem, soos met Aäron? Dat ek nie
gedurig opkyk en God “sien” nie? Watter ander gode aanbid ek tans in my lewe...?
Is ék maar my eie god?

Ernest