“Ek sal nie saamtrek na hierdie land van melk en heuning nie,
want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.” – Eks.33:3.
Eendag het ‘n bekende Afrikaanse denker reguit in geselskap gesê:
“As ek God was, het ek die hele aarde al lankal as ‘n mislukte
eksperiment afgeskryf en deur ‘n botsing met ‘n ster opgeblaas.”
Hy het dit gesê om te skok.
Gelukkig is geen mens God nie. Ons is net dikwels ons eie afgode
wat onsself aanbid... Wanneer ons na die Bybel kyk is ons nie geskok
oor so ‘n uitspraak nie, want ons weet God is nie ‘n mens nie. God het
op talle plekke in die Bybel as’t ware “tot op die randjie”, menslik gesproke,
van sy onuitputlike genade gekom, en dan weer versag en vergewe wanneer
daar opregte berou en skuldbelydenis is. Maar God het ook telkens daarin
die mens deur worsteling laat groei. God ignoreer dit nie!
‘n Verskriklike straf het die Israeliete getref, en dan praat God met Moses
‘n harde woord: “Ek sal nie saamtrek na hierdie land van melk en heuning nie,
want dan verdelg Ek julle.” Die waarheid is dat God Hom ook in die sin onttrek
aan mense wat Hom ignoreer en hulleself dien en agter ander “gode” aanloop.
Op ‘n dag kom hulle agter: Iewers het God “agtergebly”. Dan roep hulle soos
die groot Godsman, Peter Marshall, uit: “What happened between You and me,
God?” Ons het ook al min of meer so gebid? Here, waar is U? Die vraag is eerder:
“Here, waar was of is ék?” Sonder God en met ons eie afgode opgeskeep raak
ons gou eensaam en word ons wêreld en lewe leeggetap. Die Israeliete het dit
so ondervind en vandat hulle van Horeb af verder gegaan het, het hulle nie meer
juwele gedra nie – vers 6. Dit was ‘n teken van berou.
Die trek uit Egipte moes verder gaan, sê die Here. Hy bly by sy belofte aan die
aartsvaders dat Hy vir hulle nageslag ‘n land sal gee. Daarvan sou God nie afwyk nie,
maar die goue kalf episode het ‘n verskil gemaak. Jy kan nie afgode dien sonder
gevolge nie. Van nou af sal hulle God se “persoonlike” teenwoordigheid moet ontbeer.
Hy stuur egter sy engel om die inwoners van Kanaän te verdryf. Die woorde:
“Ek sal later besluit wat Ek met julle sal doen” klink onheilspellend. Wat sal dit inhou?
Die Here bly getrou aan sy beloftes, maar sy eis van gehoorsaamheid bly onverbiddelik.
Jy kan nie ander gode dien nie. God sien die volk se berou, dat hulle nie juwele dra nie,
soos Hy ook by ons ‘n gebroke hart en opregte berou en belydenis aansien.
Dan versag die Here teenoor Moses: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”
Moses antwoord hy wil nêrens sonder die Here trek nie! En God sê goed, Ek sal so maak.
Dit is die wonder van ons Vader: Ons stel Hom so maklik so verskriklik teleur,
maar Hy is net so gou só genadig om ons te vergewe. Wanneer ons die vergifnis verstaan,
of probeer begryp hoé groot dit is, sal ons nie agter ons eie gode aantrek nie!
Ons kan verseker nêrens heen gaan sonder God nie!
Ernest