“Toe sê Moses: Laat ek tog net U magtige verskyning sien!”
– Es. 33:18. Kyk net na die treffende vers 11: “Die Here het direk
met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend.” Dit is merkwaardig.
Maar ons kan ook onthou dat in ons tyd die Here net so wonderlik
met ons praat, in Christus, deur die Gees wat in ons woon!

Moses het egter nog meer gesoek. Hy wou God in ‘n “magtige verskyning”
van God sien. Eintlik God self. Hy het al tevore meermale verskynings van
God gesien. Dit is eintlik die diepste verskynsel van elke mens se hart:
Om God te sien. Om sy werklike verskyning te sien.
Dit is of alles in ons uitroep: “Wys tog net Uself vir my. Net een maal.
Want ek word moeg om voort te gaan in geloof sonder om U te sien!
My geloof word moeg en die wêreld word onherbergsaam. Stemme roep
uit alle oorde en dit verwar my. Dinge gebeur wat vir my geen sin maak nie.
Wys Uself tog net eenmaal vir my!”

Maar, sou dit gebeur, sou ons natuurlik altyd weer en weer vra. Dit is wat
hier met Moses gebeur. Moses het tog al vir God in die magtige verskyning
van die brandende doringbos gesien, en in die tien plae in Egipte! En God se
verskynings in die donker wolk en die wolk van vuur op die berg Horeb.
As Moses, van alle mense, dan wéér vra vir ‘n magtige verskyning, hoeveel
te meer sal ons dit nie ook doen nie!

God wys vir Moses op die gevaar: Hy, God self, leef in ‘n “dimensie” wat
ontoeganklik vir ons is, selfs vir Moses. By wyse van spreke: Dit is soos om
sonder beskermde drag in die binneste van kernkrag in te loop. Om sonder
beskerming in ‘n hoogoond wat staal smelt in te loop. Eintlik kan ons dit nie
bedink nie... die belangrike is: Moses sal dit nie oorleef nie. Moses sou sterf.

Nogtans, soos God in sy genade is, begryp God Moses se versoek en Hy sê
dat Hy sy “voortreflikheid” by hom sal laat verbykom: “Maar die Here sê:
“Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam
“die Here” vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil
betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Vir My kan jy nie sien
nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” – Verse 19-20.
God sal Moses ook met sy eie hand in die rotsskeur beskerm sodat hy Hom
net van agter kan sien. Maar God se gesig, hoe Hy werklik lyk, kan geen mens
sien nie.

Hierdie is merkwaardige gebeure. Ons besef net weer die grootheid van God,
Wie Hy is...en hoe ons oor Hom dink, met Hom praat, en oor Hom praat.
Ons dink so klein oor God...
Hierin skuil ‘n groot waarheid: Dit wat werklik saak maak in die lewe, soos God
se liefde en genade, Wie Hy is, sluit deure oop, ook hemelse deure. Maar, dit
maak ook deure toe. Wie te veel wil verklaar, en God se bestaan van jou
verklarings en begrip afhanklik wil maak, loop jou ook vas teen ‘n deur.
Die werklikheid, ook in dimensies waarin ons nie kan inbeweeg nie, is nie
afhanklik van ons klein begrip nie. Goddank, dat ons in ‘n tyd leef waar God Hom
in Christus op hierdie aarde openbaar hét, en deur sy Gees in ons kom woon hét.
Jesus het gesê wie Hom gesien het, het die Vader gesien...
Ons kan net uitroep: Dankie Vader!

Ernest