“Die Here het in ‘n wolk afgekom en daar by Moses kom staan
en die Naam “die Here” uitgeroep.” – Eks. 34:5. Toe die “verskyning”
van God gebeur, was dit inderdaad ‘n genadige en liefdevolle gebaar
van God. God het langs Moses “kom staan”. Dit is ook ‘n gebaar van
troos.
Hoe laat dit ons nie dink aan hoe naby God aan ons kom nie, deur in ons
te kom woon, deur die Trooster, die Heilige Gees! God “kom staan” by jou.
In jou! Vir hierdie wonderlike ervaring moes Moses opoffer. Hy moes vroeg
in die môre die berg Sinai op. “Wag vir My daar”, sê God, “op die top van die
berg” – vers 2. Aangrypend: dit is ‘n tema wat telkens in God se Woord na
vore kom: Wag daar vir My. Ek sal sekerlik kom. By jou kom staan.
Die Here kom na Moses en Moses kom die berg op na die Here.
Dit is ‘n beweging van twee kante soos in bekering, soos in weergeboorte,
soos in die misterie van God se eerste liefde en ons antwoord daarop.
Moses moes alleen by God wees. Waarskynlik was hierdie belewenis vir Moses
‘n aanvoeling van die ewigheid, die bewustheid van ondenkbare krag, die
onverklaarbare verblyding in die teenwoordigheid van die Here. Soos met
Johannes op Patmos: Hoe het jy woorde hiervoor? Hoe sal mense dit verstaan
wat dit nie beleef het nie?
Sint Macarius het geskryf: “Die een wat na die Here wil naderkom, terwyl die
Here ook naderkom, moet kom met onverdeelde aandag, gerig op die Here alleen.
Met ‘n inspanning van die hart en ‘n soberheid van gedagtes”. Dit is moeilik, maar
haalbaar in tye van soeke na die Here se teenwoordigheid en worsteling in sy
teenwoordigheid. Hoe kom jy met onverdeelde aandag as jy worstel met ‘n
probleem? Hoe kom jy met soberheid van gedagtes as jy God afwesig beleef
soos ‘n Dawid in Psalm 13?
Wel, ons kan troos en krag en inspirasie vind in Romeine 8:26: “Die Gees staan
ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie
maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word
nie.” Hoe het ons nie hierin vrymoedigheid gekry nie, deur God gegee, om bergop
te klim na Hom toe, al worstelend maar met vrymoedigheid. Soos Moses sien ons
kans om na God toe te gaan, want Hy kom by ons staan! Net jy, die Gees in jou,
wat pleit vir jou, en jou gedagtes rig op God!
En ons moet wag. Dit is miskien ons grootste struikelblok. Om te staan en wag...
dat God by ons kom staan. Ons wil nie wag nie. Ons wil nie op God wag nie...
Hoe lank gaan ons nog neem om dit te leer. God is nie deel van ons “kits”-wêreld
nie. Die Here sal kom op sý tyd, die regte tyd wat vir ons die beste is,
wat tot sý eer is.
Ernest