Moses het van God opdrag gekry om ‘n plek van aanbidding, ‘n tent,
‘n tabernakel, “God se huis” te bou. Dit sou as simbool dien van God se
teenwoordigheid by sy volk. Dit moes mooi gemaak word en nie afgeskeep
word nie. Dit herinner ook aan die tempel wat in Salomo se tyd volgens bepaalde
voorskrifte gebou moes word. Dit laat ons ook dink daaraan dat daar in ‘n tydperk
in Europa so baie aandag aan detail en grootheid gegee is met die bou van katedrale.
“Net die beste vir God”. Waarskynlik het hierdie “grootsheid” van die katedrale in
Europa hul oorsprong in die bou van die tabernakel en die tempel waarin God nie
“afskeepwerk” toegelaat het nie, en daar baie klem was op detail.
Terug na Moses en die tabernakel: “Elke Israelitiese man en vrou wat vrywillig iets
wou bring vir die werk wat die Here Moses beveel het om te doen, het dit vir die Here
gebring” – Eks. 35:29. God “woon” in die tabernakel, maar God bly God. Majesteit.
Die volk het vrywillig van hulle kosbare besittings gebring. Let op: Vrywillig,
en vir die Here! Dit het juwele en goud vir die tent van ontmoeting ingesluit.
Waarskynlik het hulle baie met hulle saamgebring uit Egipte. Twee kunstenaars is
aangestel. Basaleël en sy assistent Oholiab. Hulle moes “ontwerpe maak en dit in
goud en silwer en brons uitwerk, edelstene monteer en houtwerk doen – v 32-33.
Hulle moes ook “blou, pers en bloedrooi wolstof en linne borduur” – vers 35.
Dit laat ons dink aan die gesegde: die ware kunstenaar spaar geen moeite nie.
Dit is seker ook hoekom die katedrale in Europa later met soveel detail van goud,
silwer, brons en koper gebou is. Groot kunstenaars en vakmanne wat betrokke was.
In die tent sou die ark van God staan. Die tafel met offerbrood. Die kandelaar,
wierookaltaar, brandofferaltaar, en die bronswaskom. Alles van kosbare materiaal,
tot die priesters se klere toe. Geen moeite is ontsien nie. Al hierdie dinge, en die
handelinge daarmee, dikwels in uiters moeilike omstandighede, sou die volk herinner
aan God se teenwoordigheid by hulle op die trekpad.
Dit is waar dat ons onder ‘n boom kan aanbid. Of in ‘n moderne groot gebou wat glad
nie opgesmuk is nie. Maar die tent van samekoms, en later die tempel, sê tog iets van
toewyding, en inspanning, en oorgawe, en opoffering wat aan die Here gewy word.
En ook dat dit deur Hom in liefde en genade aanvaar word.
Ons dink aan God wat niks in sy liefde vir ons teruggehou het toe Hy die aarde geskep
het en aan ons as woonplek gegee het nie. Aan ons gesê het om saam met Hom daaroor
te heers, sy verteenwoordigers daarin te wees. Vandag, na Jesus se koms, kruisiging,
opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees, het God gekies om
deur die Gees in óns te kom woon! Ons is nou tempels van die Heilige Gees.
God het in ons kom woon! Dit is verbysterend! “Mindblowing”!
Kan ons dit ooit begryp? God kies om in mý te kom woon, deur sy Gees.
Dit is so wonderlik dat Hy nie in ‘n tent, of tempel, of katedraal, of kerk vassit nie,
maar in mý, in óns woon! Daar waar ons leef, in álle omstandighede!
Ernest