“’n Wolk het die tent van ontmoeting oordek,
en die magtige teenwoordigheid van die Here het die
tabernakel gevul.” – Eks. 40:34. Die werk van die tabernakel
was klaar. Die Here kon “intrek” en selfs Moses kon vir eers nie
in die tent van ontmoeting inkom nie. Die “Magtige Teenwoordigheid”,
of “shekinah” soos die Joodse rabbi’s dit later sou noem, die “wolk” as
teken van God se teenwoordigheid, het dit volkome gevul.

Van toe af het ‘n merkwaardige “ritueel” gevestig geraak:
“Later het dit so gegaan: wanneer die wolk van die tabernakel af voor
die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit. Die wolk
van die Here was bedags ‘n wolk oor die tabernakel en snags het dit ‘n
vuur daarbo-oor geword. So het die hele Israel dit ervaar elke keer as
hulle versit” – verse 36 en 38.

Wat sou ons nie wou gee om so ‘n sigbare wolk te hê wat “wys” wat ons
moet doen nie. “Gly of bly”. Hoe dikwels staan ons nie met groot vraag-
tekens oor wanneer ons moet voortgaan of moet ophou nie?
Of waarheen nie? Wat ons moet doen nie? Hoeveel makliker sou ‘n wolk
dit nie vir ons gemaak het nie? Ons sou soveel makliker besluite kon neem.
Wanneer die wolk beweeg weet ons ons moet ook beweeg. Wanneer hy
stilstaan, staan ons stil.

Is dit so? Sou dit ons help? Die Israeliete het met wolk en vuur en al nog
steeds “skeef” geloop! Dikwels skeef getrap op hul tog saam met God.
Dit is menslik. Ons trap ook skeef, Woord en sakrament en wonders en al!
God is niks minder teenwoordig by ons as by Israel nie! Hy woon deur sy
Gees in ons!! Hy praat deur sy Gees, lei deur sy Gees. In ons moderne
wêreld sou ons seker gou die “wolk” en die “vuur” begin ontleed het.
‘n Rasionele verklaring daarvoor begin soek het... God vir ander
“meer oortuigende” wonderwerke begin vra het... Mens bly mens...

Ons kan regtig as gelowiges wéét: As ons die Here wil volg, sal Hy
verseker lei! Dikwels nie soos ons verkies of dink nie. Dikwels in ons
oë met ompaaie, soos Israel in die woestyn, maar om verseker sý doel
met ons te bereik. Die wonder gebeur steeds! Die engel gaan nog voor
ons uit, en die wolk beweeg... God doen dit net so dringend en tydig
soos altyd... as ons Hom net wil soek, op Hom wag, en Hom volg....

Ernest