“Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig;
weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te
gee.” – 2 Tim. 4:2. Die wêreld is vol van mense wat nie belangstel
om voor God te buig en Hom te volg nie. Hulle wil hul eie konings
wees en hul eie wil uitvoer. Sommige verwag selfs van die wêreld
om voor húlle te buig. Die mens word eintlik baie maklik sy eie god...
Hoe kan ons teen dit inleef in hierdie wêreld? Ons kan verseker vir
sulke slagoffers bid. Maar ons kan ook sulke mense met die Woord bedien,
of hulle wil luister of nie... Ons woorde is ‘n uiters belangrike sleutel tot die
vloei van God se genade in hierdie wêreld. Ons moet die woorde uit die
Bybel oor ons lippe laat vloei. Dit moet egter ook uit ons harte kom.
Ons moet daagliks ons mond aan die Heilige Gees toevertrou. Dan kan ons
woede met sagte maar tog dringende reaksie beantwoord. Nors gesigte
moet met liefdevolle taal begroet word. Komplimente moet, waar nodig,
diep uit ons hart bedoel word en dan bewustelik met ander gedeel word.
Ons moet hooplose mense moed inpraat. Ons is deel van Christus se aardse
noodhulp span. Die Here se genesende krag en woorde moet oor ons lippe
vloei. Ons opbouende woorde is deel van God se geneesmiddels in ‘n wêreld
van siek taal en so baie destruktiewe kommunikasie.
Ons moet nie bang wees om mense reg te help wat droogmaak nie.
Met die liefde van die Here moet ons mense wat ons ken waarsku wanneer
ons sien dat hulle op ‘n ramp afstuur. Dit vra van ons om in alle omstandighede
streng te wees waar dit nodig is. 2 Tim. 4:2 vra dit ook juis van ons.
Dit kos natuurlik moed om met sulke eerlike en reguit taal te praat in alle
omstandighede. Maar ons moet onthou: Al bewe ons knieë partykeer in die
geselskap waarin ons is, die Rots waarop ons elke dag staan, bewe nooit.
Ons praat met wysheid wat die Gees gee. Met eerlikheid en deursigtigheid.
Ons laat dan al die resultate oor aan die Here. Hy verander mense op sy eie
maniere. Ons is slegs die Here se getuienis en sy knegte. Ons is sy pratende
instrumente van hoop en van die lewe.
Moenie terugdeins nie. Verkondig die Woord! Hou daarmee vol.
Tydig en ontydig. Wat eintlik beteken...deurlopend.
Ernest