Mense kan hulle maklik laat ontspoor deur vleitaal.
Dit gebeur ongelukkig ook met ons as gelowiges.
So sien ons dit byvoorbeeld by koning Joas van Juda.
Hy het op die Here se pad begin en geloop maar hy eindig in
sonde en skande en een groot tragedie. Die rede? Vleitaal.
Hy het, nadat die priester en sy mentor Jojada oorlede is,
na die vleitaal van die goddelose leiers begin luister. Hulle het
hom met vleitaal aan hulle kant gekry. Hierna het hy die Here
verlaat en agter die een na die ander vals gode begin aandrentel.
Joas het later selfs opdrag gegee dat Sagaria, die seun van Jojada,
sy gewese mentor, om die lewe gebring moet word toe hy geprofeteer
het dat God hulle gaan straf. Hoe sleg dat iemand so tragies kan verval!
En dit alles as gevolg van vleitaal waaraan hy hom begin steur het.
Lees 2 Kronieke 24.

Dit verg leeuemoed om nee te sê wanneer mense jou begin ophemel
met vleitaal en jou op ‘n troontjie sit. Hulle gee dan aan jou buitengewone
erkenning en toejuiging, en hulle vleitaal word ‘n struikelblok op jou pad.
Hulle vlei jou natuurlik ter wille van hulle eie motiewe. Dit is een ding om
dank en opregte erkenning uit die mond van ‘n medegelowige te hoor,
maar ‘n ander ding om gedurig heuning om die mond gesmeer te word
deur mense wat eintlik besig is om jou om te koop en in hulle sakkie te kry.

Moenie in die strik trap om jou te laat vlei deur “gladde” mense se “gladde”
woorde nie. Luister baie mooi wat ander mense vir jou sê en aan wie hulle
regtig die eer gee. Aanvaar opregte komplimente van opregte navolgers van
die Here, met dank. Doen dit sonder om te dink jy verdien dit.
Vra die Heilige Gees om jou die onderskeidingsvermoë te gee om te kan
onderskei of woorde opreg bedoel is en of dit net vleitaal met ‘n verskanste
doel is.

Wie ontvang die eer, regtig? Wys hulle lewe ook wat hulle woorde sê?
Is hulle woorde opbouend, of vals strikke? Dit het Joas sy siel gekos.
Vleitaal...dit korrup sowel die vleier as die ontvanger. Dit is soos mense
wat jou met ‘n leë lepel voer.

Ernest