“Toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself,
en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here
sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierook-
offers op die wierookaltaar te bring.” – 2 Kronieke 26:16.
Ussia was ‘n suksesvolle koning op militêre gebied. Maar hy het gou grootkop
gekry en te vol geword van homself. Daar was spoedig nie meer plek vir selfs
die Here in sy lewe nie. Hy het gedink hy dien die Here, maar hy het eintlik net
homself gedien. Daarom het hy sommer op ‘n dag in die tempel ingestap en ‘n
offer op die wierookaltaar gebring. Die priester en ‘n klompie soldate het hom
probeer keer, maar iemand wat so vol is van homself laat hom nie maklik keer nie.
Terwyl hy uitgevaar het teen die priesters, het ‘n verskriklike ding hom oorgekom.
Hy het melaats geword. Dit sou die res van sy lewe aan hom kleef. Hy moes in
eensame afsondering gaan bly, ver weg van sy mense en die huis van die Here.
Let op wat in bogenoemde teks staan: “toe hy eenmaal die mag het...” Mag kan
jou arrogant maak... as hoof van jou huis, as werkgewer, as kaptein van jou span...
Let verder op: “hy het ingenome geword met homself”... meer van homself begin
dink as wat nodig is. Hy het “aanmatigend” geraak, staan daar verder. Selfs teenoor
die Here sy God.
Wees versigtig om jou nie blind te staar teen jou eie vermoëns en prestasies nie.
Selfvoldaanheid kos jou peperduur lewenslesse. Ussia se oordadige selfversekerdheid
het hom later ‘n verstoteling gemaak.
Kyk mooi...God se hemelse nabyheid is rondom jou. Die Almagtige is altyd by jou.
Sy Gees is in jou. Jy is die Here se eiendom. Jy is sy duurgekoopte besitting. Jy behoort
aan Hom! Besef dat jou lewe aan God behoort en dat niks jou ooit van Hom kan skei nie.
Weier om jou knie voor selfsug en eer te buig. Dan is jy nie te groot om te luister na raad,
of om jouself aan die Here en aan ander mense te onderwerp nie. Dan het jy ‘n leerbare
gees en ‘n sagte hart wat al hoe meer gevorm word tot eer van God. Sorg dat jy tussen
mense beweeg wat jou baie van die lewe kan leer. Wat jou reg kan leer.
Leef tussen hulle met ‘n leerbare gees.
Ernest