Ons dink dikwels impak word eers gemaak as massas mense
betrokke is. Groot kerke wat in massas bygewoon word.
Baie getuies. Reuse aksies. Maar hierdie dinge is nie ‘n
voorwaarde vir die seën van die Here nie.
Neem nou ‘n man soos Hiskia. Koning Hiskia het die Here se hart
bly gemaak. Hy was maar 25 jaar toe hy koning van Juda geword het.
Dit was ‘n donker tyd in die land se geskiedenis. Hiskia het egter alleen
begin om voor te loop en die pad na die Here aan te dui. Skielik is God
weer in opregtheid aanbid. Manne en vroue se harte is nuut gemaak
voor die Here. Verootmoediging voor die Here was aan die orde van die dag.
Die tempel is amptelik in diens geneem tydens ‘n seremonie waar God geloof
en prys is oor sy goedheid.
Dit alles het gebeur omdat een man gekies het om die regte pad te loop.
En die res het hom gevolg. Hiskia het die Here eerste gestel. 2 Kronieke 29:36:
“Hiskia en al die mense was bly oor wat God vir die volk beskik het...”
Net een kind van God kan ‘n groot verskil maak. Net een kind van God is op die
regte tyd en regte plek genoeg. Ter wille van een van God se kinders sal Hy op
die regte tyd en plek sy seëninge uitgiet. God maak deur een persoon wat Hom
volg ‘n groot verskil in ander mense se lewens. Ons kan dit nie noodwendig
waarneem of verreken nie. Maar God red deur een persoon wat Hom volg
baie ander lewens.
Ken jy die krag van een? Moenie dit onderskat nie, want dit is God se krag,
deur een! Meer nog: Is jy daardie een persoon waardeur God oneindig meer
wil doen as wat jy bid of dink? Het jy al alleen voor God gaan staan en aangemeld?
Pluk ander mense rondom jou veel vrug wat jy dra vir God? Vrug van die Gees!
Meld vandag man/vrou alleen aan voor God, en Hy sal jou verander in ‘n lewende
seën vir ander mense met wie jy te doen kry!
Ernest