Geloof is regtig om groot dinge van God te verwag.
In 2 Kronieke 32 lees ons hoe Hiskia en die profeet Jesaja bid
en die Naam van die Here met oorgawe aanroep. Dit gebeur
terwyl koning Sanherib van Assirië met hulle spot. Sy magtige
leër omsingel Jerusalem en hy is ewe grootmeneer. Net vroeër
het hierdie leër van hom die Tien Stamme van Israel in die noorde
gelykgemaak met die grond. Nou is dit Juda se beurt. Jerusalem is
onder beleg.

Maar toe stuur God, in antwoord op gebed, op bonatuurlike wyse
‘n engel met ‘n swaard wat al wat ‘n vyand van Juda is op die oorlogsveld
laat sneuwel. Praat van ‘n Goddelike ingrype wat betyds was! Geloof is nie
‘n versekeringspolis teen siekte, oorlog, misdaad, werkloosheid of rampe nie.
Geloof is nie ‘n kits-antwoord op al die waaroms van die lewe nie.

Tog beteken dit nie ons moet ophou bid en glo nie! Ons moet aanhou om
dag en nag te pleit vir wonders en kragtige ingrype van God. Ons moet hier
by Jesaja en Hiskia leer. God is die Hoorder van gebed!

Hiskia en Jesja het, teen alle oormag in, aan God vasgehou. Hulle was
letterlik uitgelewer aan die wêreldmag van Sanherib. Op hulle eie het hulle
geen kans gestaan om te oorleef nie. Maar, op presies die regte oomblik,
al is dit op nommer 99, het God die uitkoms gestuur! Jesaja hulle het nie
geweet hoé God hulle sou help nie. Maar hulle het onwrikbaar geglo dát
God hulle gaan help. En God het ook!

Ons moet dieselfde doen as Jesaja en Hiskia. Verwag regtig groot dinge
van God. Vra Hom om op sy tye en manier die onmoontlike moontlik te
maak. Bly net glo en bid. Hy maak inderdaad die onmoontlike moontlik!
Hy laat reuse val. En Hy verskuif berge. Vertrou God onvoorwaardelik.
Al dink ander mense jy is laf. Vertrou God! Verwag dat Hy enige oomblik
gaan doen wat Hy doen. Die onmoontlike! Wanneer jy dink die nood is op
die hoogste en niks is meer moontlik nie, sal God tot jou redding verskyn!

Verseker! Glo dit! God hoor jou gebede in Jesus se Naam!

Ernest