Sukses en harde werk loop hand aan hand.
Vra maar vir enige sportster, musikant, sakeman of
suksesvolle boer. Jy sal nie suksesvol wees as jy nie hard
werk of hard oefen nie. Daar is nie kortpaadjies nie, al het jy
hoeveel talent. Dissipline, vasbyt, doelgerigtheid.
Hierdie kenmerke is teenwoordig by alle top presteerders.

Nou: ‘n Lewe waar God verheerlik word vra ook om jouself te offer!
Om God te verheerlik in alles wat jy sê, dink en doen, vra ook volgehoue
toewyding. Selfs Josia moes ook die Leviete, wat spesifiek tempeldiens
moes doen, aanmoedig: “...Doen nou julle werk vir die Here julle God
en vir sy volk Israel.” – 2 Kronieke 35:3.

Sonder die nodige geestelike stamina en vasbyt, is mislukking in jou
geestelike lewe ook op die horison. Jy sit nie net terug nadat God alles
gedoen het, en dan “float” jy maar net so op die oppervlakte nie.
Paulus sê duidelik dat hy hom inspan! As jy dit nie doen nie, val jy vir
elke versoeking wat op jou pad kom. Dan word jy soos ‘n golf op die see
wat heen en weer in alle rigtings gewaai word. So ‘n onstandvastige lewe
is geensins vir die Here of vir ander mense ‘n seën of ‘n vreugde nie.

Dit is noodsaaklik om jouself toe te lê op ‘n Godvresende leefwyse.
Dit is ‘n leefwyse waar die Here altyd al die eer ontvang. Jy moet goed
weet dat God deur jou nog baie wil bereik terwyl jy Hom op aarde
verteenwoordig. So nie, verloor jy belangstelling. Die duiwel sit en wag
vir mense wat nie doelgerig vir God lewe nie. Hulle is vir die duiwel sagte
teikens. Ware geestelike toewyding en oefening maak ons geestelik fiks.
Dit maak dat jy al hoe meer gelykvormig leef aan Christus.

Hou aan! Byt vas! Volharding is die Bybelse woord. Doen jou werk vir die
Here met toewyding. Beoefen geestelike dissiplines soos stiltetyd en gebed
met toewyding. Vervul jou roeping met toewyding. Wat dit ookal is...
dien God daarin met toewyding

Ernest