1 Korintiërs 9:25: “Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem,
ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike
oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike.”

In Paulus se tyd het een van die vier grootste Speles van die antieke
wêreld elke tweede jaar plaasgevind in die stad Korinthe. Dit was die
Istmiese Spele. Tydens hierdie spele het atlete, digters, dramaturge,
sangers en ander kunstenaars van oor die wêreld heen teen mekaar
meegeding in die strewe om roem en erkenning te kry. Die beloning
was lourierkranse en groot houers met olyfolie. Op sigself was dit baie
werd! Maar dit het nog meer gegaan oor eer en bekendheid!
Tog was dit ook maar van korte duur. Vandag se helde is altyd maar
op pad om môre se verskietende sterre te word. Daar verskyn telkens
weer nuwe sterre en helde op die horison.

Van die Istmiese Spele gepraat...Paulus het dit waarskynlik ook bygewoon
tydens sy verblyf in Korinthe. Handelinge 18 vertel ons daarvan. Paulus het
agtien maande in die stad Korinthe gebly en gewerk. Tydens sy besoek aan
hierdie spele het Paulus gesien hoe gefokus en toegewyd die atlete is, en
met hoeveel passie hulle deelneem om te wen!

Toe skryf hy vir die Korintiërs dat ons as Christene ook atlete in die Here
se span is. Ons moet met groot oorgawe tot die Here se eer leef en onsself,
met alles in onsself, inspan om die prys te ontvang wat die Here vir ons almal
in gedagte het. Die Here se prys is egter nie net tydelike eer en erkenning nie,
maar ewige lewe! Ewige eer en erkenning! Voor ons lê die grootste prys in die
heelal oop! Die ewige lewe saam met God! Hierdie prys is egter nie almal
beskore nie. Dit wag slegs vir die wat nougeset volgens die reëls deelneem.

Geloof in Jesus as die enigste Here is die wegspringblok. Geloof vereis egter
ook dag na dag se vasbyt. Volharding op die pad van Jesus, in Jesus se voetspore.
Ons moet nie vir ‘n enkele oomblik ons oë van Jesus afhaal nie. Voluit, en enduit,
wenpaal toe.
Ook die Hebreër skrywer beklemtoon dit in Heb. 12:1-2:
“...en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,
die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

Ernest