Geloof bou ook aan die geloof van ander gelowiges,
en staan nie in die pad van geloofsgroei by ander nie.
Dit beteken dat ons mooi moet dink hoe ons optree,
selfs al het ons “meerdere” insig in ‘n bepaalde saak
wat geloof raak. In 1 Korintiërs 8 word Paulus gevra of
dit reg is om vleis te eet wat aan ‘n afgod geoffer is.
In vers 7 sê Paulus: “Nie almal het hierdie kennis nie.
Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat
hulle nog altyd vleis eet asof dit ‘n offer aan ‘n afgod is.
Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder
beswaar.”

Paulus se standpunt in 1 Kor. 8 is duidelik: Moenie ander
gelowiges veroordeel wat anders as jy dink oor minder
belangrike sake in die koninkryk nie. Ons het geen
toestemming om mekaar uit te haal of te veroordeel oor
dinge wat ons as “kantlynsake” beskou nie. Wanneer die
hartklop van die evangelie op die tafel is, mag ons geen
kompromieë maak nie. Dit weet ons. Wanneer daar egter
dinge ter sprake is wat Paulus as minder belangrik beskou,
soos die eet van die “regte” kos of die viering van sekere
heilige dae, mag ons mekaar nooit verdag maak of afskryf
nie. Dan tree ons nie in liefde op nie.

Neem ander gelowiges se sienings in ag. Moenie hulle aanstoot
gee deur jou gedrag nie. Al voel jy dat ‘n bepaalde saak, waaroor
jy en ander gelowiges uiteenlopende sienings het, in jou oë reg is
en hulle meen dit is verkeerd, moet jy nie aanstoot gee deur dit te
doen in hulle teenwoordigheid nie. Soos die eet van offervleis,
waarna Paulus hier verwys. Wees die minste. Staan uit die pad,
eerder as in die pad van hulle geloofsgroei. Moenie ander Christene
laat struikel nie. Dit is nie die moeite werd dat ander gelowiges se
geloof aan flarde geruk word deur iets wat in elk geval, vir jou, nie
die kern van geloof is nie! Al is dit vir jou ‘n minder belangrike
aangeleentheid in die koninkryk van God, neem Paulus se voorbeeld.
Hy het self nie ‘n probleem gehad om enige soort kos te eet nie,
soos hy in Romeine 14:14 skryf. Tog was hy nie bereid om gelowiges
te laat struikel wat anders oor die eet van kos as hy gedink het nie.

Bou ander gelowiges se geloof eerder op, as om oor beuselagtighede,
in jou oë, te stry. Te veel gevegte in die kerk gaan alreeds oor
onbelangrike dinge wat nie die kern van die evangelie raak nie.
Te veel kampe word opgeslaan rondom dinge wat nie voorop staan
vir God nie.

Ernest