Ons hoor in ons tyd regtig baie van menseregte.
Groepsregte. Indiwiduele regte. Allerhande soorte “regte”
waarop ons aanspraak maak. Almal staan so op hulle regte...

Paulus sê iets baie treffend in 1 Korintiërs 9:19: “Hoewel ek vry is
en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel
om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.” Dit is een van die
mooiste uitsprake. Maar dit is ook een van die uitsprake wat die minste
deur ons uitgeleef word. Paulus sê hier dat hy sy eie regte as apostel
gedurig prysgee om ander mense met die evangelie te dien. Vir die Jode
het hy soos ‘n Jood geword. Vir die Grieke soos ‘n Griek. Die swakkes het
vir Paulus as ‘n swakke leer ken, en dié met ‘n wet of sonder ‘n wet het
Paulus ook op hulle eie terreine raakgeloop. Paulus was egter verseker nié
‘n geestelike verkleurmannetjie nie! Hy het nie maar net almal gelukkig
probeer hou nie. Hy het nie maar net sy seile na die wind gespan nie.

Hy maak duidelik hoekom hy elke slag by die kulturele gebruike van Grieke
en Jode, wetteloses en wetsgehoorsames ingeval het. Sy Rede? Om sommige
te red! So duidelik en so eenvoudig soos dit.
Nie minder nie as ses keer sê Paulus in 1 Korintiërs 9:19-23 sy enigste motief
vir sy opofferende optrede en om verskillende kulture en groepe in ag te neem,
is om sommige van hulle vir Christus te wen. Waar Paulus hom ookal bevind het,
het hy net een doel voor oë gehad, en dit was om mense na Christus toe te lei.
Hieroor was hy nie skaam nie. Hy was bereid om alles op te offer daarvoor.
Hy het sy motiewe deurgaans suiwer bekend gemaak. Wanneer hy tussen die
Jode was, het hy sover moontlik probeer aanpas by hulle gebruike om so ‘n
mooi reddingspad vir die evangelie tussen hulle te bou. Dieselfde het hy gedoen
tussen die Grieke. Op die manier het Paulus alles vir almal geword om sommige
vir Christus te wen.

Ons moet mooi dink oor ons eie ingesteldheid as kinders van die Here.
Ons kan so maklik klem lê op al ons sogenaamde “regte” dat ons nie meer
bereid is om op te offer ter wille van ons medemens nie. Sal ons bereid wees
om ons “regte” prys te gee ter wille van die wen van mense vir Christus en vir
God se koninkryk? Is ons so besorgd oor mense se ewige heil, soos Paulus?
Is jy bereid om prys te gee en aan te pas, om ongerief te verduur, en selfs
tekort gedoen te word...alles om mense vir Christus te wen?
So baie van ons staan soveel op ons “regte” dat ander mense ons gedurig
moet akkommodeer en dien...
Ons benodig werklik die begrip en die daad van opoffering,
om sodoende mense vir Christus te wen. Offer op.
Alles ter wille van Jesus!

Ernest