Koos du Plessis sing: “Elke afdraaipaadjie ken ek.
Elke keer het ek gedwaal”. Ons kan so daarmee identifiseer
en saam met hom dit sing. Ons kan ook so singend saam met hom
bely hoeveel maal ons al van die Here se pad weggedwaal het.
Ons ken daardie teleurstelling en selfverwyt as jy agterkom dat die
een of ander sonde jou nogmaals behoorlik laat struikel het.
Ons weet van diep val...
Verkeerde dinge kan ons so maklik uitboul. Net wanneer ons dink
dit gaan nou baie goed in ons lewe en diens vir die Here, dan loop
die een of ander ding ons onderstebo. Geen wonder nie dat Paulus
die Korintiërs in 1 Kor. 10:12 waarsku dat hulle nie moet dink hulle
geloof is so sterk dat hulle nooit kan val oor sonde nie. Sonde bekruip
jou en slaan toe op die mees onverwagte oomblikke.
Maar nou gee Paulus ook goeie nuus om hierdie probleem te oorkom.
1 Korintiërs 10:13: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan
weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle
bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy die uitkoms
gee, sodat julle dit kan weerstaan”.
Paulus sê hiermee dat ons verseker nie willose slagoffers van versoeking
is nie. Ons is nie magteloos uitgelewer aan sonde nie. God laat nooit toe
dat ‘n versoeking wat te moeilik vir ons is om te weerstaan ooit op ons pad
kom nie. Saam met elke versoeking waarvoor ons te staan kom, gee God
ook die krag om dit te oorwin! Elke keer. Orals. Altyd. Weet dus met jou kop,
en met jou hart, en met jou nuutgemaakte wil, dat God jou sal help om dit te
weerstaan as jy afhanklik van Hom die versoeking die hoof bied!
Skuil lewenslank by Jesus Christus! Sê elke slag in sy Naam nee!
Bied weerstand in sy Naam en deur sy krag,
die krag van die Heilige Gees in jou!
Jy kán nie net in die Here se krag nie,
jy moet ook elke keer in sy krag!
Ernest