1 Timoteus 1:15: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder
voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld
gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.”
Die frase “...Christus Jesus het in die wêreld gekom...” laat
ons in hierdie tyd veral aan die geboorte van Christus dink.
Kersfees wat eersdaags op hande is.
Hier is egter ‘n lewensbelangrike beginsel ter sprake hóékom
Jesus wêreld toe gekom het! Ons kan ons op net een Naam
beroep in terme van hoop en redding! Ons lewe lank is daar
net een Naam op aarde, wat ons kén, en wat die ewigheid se
deur oopsluit. Dit is die Naam van Jesus Christus! Hy is jou
enigste hoop en redding, hier en nou, en tot in ewigheid.
Hierdie eenvoudige belydenis dat Hy jou Here is, sluit God se
ewige woonplek vir jou oop. Jesus wag ook self daar vir jou
by die fees van ‘n ewigheid.
Het jy al daaraan gedink: Die voorreg om die heel belangrikste
Persoon in die heelal op sy voornaam te ken! Wat ‘n eer is dit nie
om die mees eksklusiewe Naam wat in die heelal bestaan op jou
lippe te kan neem, met Hom te kan praat, en aan Hom die ereplek
in jou lewe te gee. Ons mag nie vir ‘n enkele oomblik hieraan
gewoond raak nie. Moenie die Here se Naam onnadenkend of
sonder eerbied op jou lippe neem nie. Elke keer moet jy Jesus se
kosbare Naam, in Wie jy redding gevind het, met respek aanroep
as jy bid.
Elkeen van ons was ook vroeër verlore sondaar! Net soos Paulus.
Die apostel het ook, soos ons, geweet van diep val, weg van God af.
Maar hy het in Christus ontdek dat God laer buk as wat ons kan val,
om ons in die Naam van Jesus in genade op te tel.
Op pad na Damaskus, om Christene te vervolg, het Paulus hom
vasgeloop in Jesus. Wel, as God dit vir Paulus, die vervolger van
Christene gedoen het, kan Hy dit verseker vir jou doen. En Hy wil!
Daarom is die evangelie ‘n betroubare woord waarop ons al ons
hoop kan plaas vir redding. Christus het gekom om sondaars te verlos!
Van hulle is ek die grootste! Hierdie betroubare woord is steeds die
enigste hoop vir die wêreld! Die boodskap van Kersfees...
Ernest