“Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete.
Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het
hulle geloof skipbreuk gely.” – 1 Timoteus 1:19.

Baie dun elektriese draadjies gelei groot krag.
Die draadjie “weet” nie eers dat hy dit doen nie.
Die geheim van enige kragdraad is om net ingeskakel
te bly by die kragbron. Dit is so eenvoudig soos dit.
Die eindpunt waarheen die krag onderweg is, is die plek
waar die krag in aksie gesien word. Nie in die voltydse
geleiers naamlik die kragdrade nie. Ons is die kragdrade.

Kragdrade is nie die aandagtrekkers nie. Die kragbron kry
die aandag. God is die Bron! Kom ons herinner ons daaraan
dat ons voltydse geleiers is van God se hemelse krag in hierdie
donker wêreld. Let wel, ons is nooit die eksklusiewe eindverbruikers
van die Here se krag nie. Hemelse krag is nie in die eerste plek daar
net vir ons eie gebruik nie. Ons is geleiers van hierdie krag na ons
medemens tot redding en tot groei in Jesus.

Christus se krag vloei meestal heeltemal ongesiens deur ons om
ander mense aan te raak en hulle tot diens te wees. Ons hoef nie
self hierdie krag te “ervaar” voordat dit begin werk nie. Ons eie
gevoelens mag nooit die barometer wees waaraan God se krag en
God se nabyheid gemeet word nie. Dink weer daaroor:
Dun krag draadjies gelei reuse krag! Ons kan dit ook vir God doen!
Ons moet egter verbind wees aan die kragbron. God is die Bron!
Ons moet staak om ‘n eindverbruiker van God se krag te wees,
en dat die boodskap en krag van die Here by ons stol en ophou.

Word weer net die kragdraad! ‘n Goeie geleier van die grootste Krag
wat in die heelal aan die werk is. Soos Paulus vir Timoteus sê: Hou vas
aan die Here! “Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete.”
Bly daagliks en deurgaans in verbinding met Hom wat die enigste
ware kragbron van die ewigheid is. Laat God se krag vloei!

Ernest