“Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here,
want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe
meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen
die Here wat die Gees is.” – 2 Korintiërs 3:18.

Ons kry in hierdie Skrifgedeelte groot plofkrag! Hoekom hierdie teks
so min deur Christene onthou en benut word is hartseer! As ons besef
dat hierdie teks grofgeskut is, en dit ons eie maak, ontplof die evangelie
van voor af in ons lewe!

Paulus gebruik hier die beeld van ‘n sluier wat Moses oor sy gesig getrek
het. Dit was nadat hy saam met God op die berg was en die wet van God
ontvang het. Omdat Moses se gesig geblink het, het hy dit vir die Israeliete
weggesteek. Paulus skryf dan dat ons wat in Christus glo, Hom met
ongesluierde gesigte aanbid! Omdat die Gees van die Here in ons is,
is ons vry! Ons weerspieël die heerlikheid van die Here oop en bloot!
Hy skitter heeltyd op ons gesigte. Dit is ‘n merkwaardige teks hierdie.
Want dit is nie al nie: Ons word ook by die dag al hoe meer verander na
die ewebeeld van Christus! Elke dag weerspieël ons nog meer van die Here
se grootheid en glorie.

Ons as Christene is deurentyd aan die verander. Ons vertoon meer en
meer die beeld van Jesus. Meer en meer soos Jesus. Ons “word” natuurlik
nie Jesus nie.
Verstaan mooi. “Soos Jesus” beteken Christus-gelykvormig omdat die
Heilige Gees aanhoudend in ons aan die werk is. Die Gees verander ons
van binne af. Kom jy dit agter in jou lewe? Sien jy hoe jy al hoe meer
gelykvormig aan Christus lewe en sy heerlikheid weerspieël. Beleef jy dat
jy sy stem al hoe duideliker hoor en dat jy groei in Hom? Is jy gehoorsaam
aan die Heilige Gees of weerstaan jy Hom?
Met kinders van die Here is dit ook so dat hulle nie daarop ingestel is om
self hierdie groei te sien nie. Jy leef in elk geval alles in God se rigting,
en weerspieël of weerkaats dit na ander se lewens. Hulle sal sien en weet
hoe jy verander. Lees weer bogenoemde vers! En weer!

Jy self leef net met soveel oorgawe vir die Here, dat die Gees in jou die
beeld van Jesus meer en meer weerspieël. Wees elke dag klei in die Heilige
Gees se hande! Hy sal jou, as nuutgemaak in Hom, nog meer en meer vorm
na die beeld van Jesus. Die Heilige Gees sal die eer van God op jou gesig laat
skyn! Jy sal die heerlikheid van die Here weerspieël.

Dit doen die Here wat die Gees is!

Ernest