“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,”
het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die
kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus
uitstraal.” – 2 Korintiërs 4:6.

Paulus verwys aan die begin van die vers terug na die skepping
deur God. Dit is asof Paulus Genesis van voor af beskryf in 2 Kor. 4.
In die eerste ses verse worstel Paulus met die groot vraag wáárom
mense nie die evangelie glo, of wil glo nie. Hy verkondig dit oop en
bloot aan almal wat hy teëkom. Daar is geen sluiers oor hierdie
boodskap wat hy verkondig nie. Dit is eenvoudig die waarheid,
die werklikheid van God. Moses moes vroeër nog ‘n sluier oor sy
gesig trek om die heerlikheid van die Here weg te hou van die
Israeliete af – 2 Kor. 3:13. Nou is dit verby! Die evangelie is oop
en bloot! En tog verwerp die mense dit!

Die rede? Wel, dit is die god van hierdie wêreld, die Bose,
wat steeds ‘n sluier oor mense se koppe trek sodat hulle verstand
verblind word en hulle nie wil glo nie. Satan se bose planne is die
rede vir mense se geestelike blindheid. En natuurlik dat mense kies,
om vir Satan luister.

Aan die ander kant is daar baie mense wat die evangelie van Jesus
Christus van harte glo! Paulus sê dat dit niks minder is as ‘n skeppings-
wonder nie! ‘n Tweede Genesis! “Laat daar lig skyn uit die duisternis.”
Hy gebruik juis skeppings-taal om hierdie wonderwerk mee te beskryf
om die grootsheid daarvan aan te dui! Net soos God heel aan die begin
lig uit duisternis gemaak het, maak Hy nou ook lig in elke gelowige se
lewe. Die duisternis van die sondige bestaan word nuut gemaak met
Goddelike lig! God doen hierdie wonder in elkeen wat glo!

Dit is ‘n nuwe skepping! Geloof in Jesus Christus is ‘n radikale oor-begin
en ‘n voor-begin! Ons kan nie ophou om uitroeptekens agter hierdie
wonder te plaas nie! God sorg hiervoor. Net God skep uit niks. Net God
bring lig waar nooit lig bestaan het nie. Redding is absoluut eksklusief
aan God te danke. Dit is uit genade van Hom alleen. Daarom moet ons
Hom loof en prys met ons totale lewe.

En ongeloof? Wel...dit is mense se eie skuld. Dit is nie God se skuld nie.
Mense laat willens en wetens toe dat die god van hierdie wêreld,
die Bose, hulle verblind. Hy voer hulle mee in ‘n skrikwekkende toekoms.

Geloof! Ja, dit is ‘n wonderwerk van God! Dit is verniet! Dit is te danke
aan God se eindelose genade en liefde vir verlore mense!

Ernest