Geloof is om te weet swaarkry gaan verby.
Daarom sê Paulus in 2 Korintiërs 4:16: “Om hierdie rede
word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te
vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
Ons almal ken die gevoel van moedeloosheid. Een of ander
tyd sit ons hooploos en ontredderd langs ‘n siekbed, of staan
langs ‘n graf, of worstel met ‘n gebroke verhouding, of kyk op
na die hemel oor dit al vir sewe jaar nie gereën het nie...
Om uitsigloos, alleen en verlate te voel, met jou geloof en al,
is vir baie van ons ‘n stryd...selfs ‘n geloof-stryd.
Paulus vertel egter in 2 Kor.4 dat moedeloosheid ons nie moet
onderkry nie. Hoe moet ons dit regkry? In verse 16-18 deel hy ‘n
paar redes met ons. Hy weet minstens drie belangrike dinge oor
God wat hom daagliks met hoop laat lewe!
Die eerste is: Paulus byt vas op God se pad omdat hy weet die Here
begin daagliks nuut met elke kind van Hom! Weet dit verseker:
God begin elke dag nuut met jou! Ons kry elke dag ‘n skoon bladsy
by God om dit vir Hom te leef. Hy maak ons ook elke dag nuut.
Daarom sê Paulus in bogenoemde vers “...innerlik word ons van dag
tot dag vernuwe.” Besef ons die genade en geleentheid wat hierin lê?
Die tweede rede vir Paulus se dapperheid is omdat hy weet swaarkry
is tydelik. Dit gaan regtig verby. Dit sal ook op ‘n punt vir altyd ophou.
In die seer en swaar van hierdie lewe gaan ons verseker nie vir altyd leef
nie. Hierdie wêreld is aan die verdwyn. Paulus sê ook óns is uiterlik besig
om te vergaan. Elke mens sal een of ander tyd sterf... die dood is doodseker!
Maar ons leef met ‘n lewende hoop na môre en oormôre toe. Deur die
opstanding van Jesus Christus uit die dood het ons ‘n lewende hoop!
Lees weer 1 Petrus 1:3-4!
Die derde rede vir Paulus se vasbyt in swaarkry...en hét hy nie swaargekry nie!...
is omdat hy weet daar wag ‘n nuwe wêreld op alle kinders van God. Paulus se oë
is op hierdie nuwe wêreld gerig. Hy ontken nie die werklikheid waarin hy én ons
lewe nie, maar hy leef met sy oog op God se toekoms!
Kom ons leef met hoop in die oorwinning van Jesus Christus.
God het nie net vir ons gesit en kyk, met eerbied gesê, in ons swaarkry nie.
In Christus kom ly Hy saam met ons en ter wille van ons, en oorwin die dood
en swaarkry tot in ewigheid! “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie...”
Ernest