Die Here vra nooit meer as wat ons het nie,
of as wat ons kan gee nie. Paulus skryf aan die Korintiërs:
“Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie;
maar sodat daar ewewig sal wees.” – 2 Kor. 8:13. Dit skryf Paulus
aan die Korintiërs waar hy met hulle praat oor ‘n geldelike kollekte
wat hy vir arm mense in Jerusalem insamel.
Ons hoef nie alles op ons naam weg te gee nie. Ons weet ook dat
dit nie die bedoeling is nie. Ons moet verantwoordelik met ons geld
omgaan en sorg dat ons nie ook op die lys vir arme-sorg land nie.
Ons moet egter nie suinig wees nie! Ons is rentmeesters van ons geld,
in God se Naam. God gee dit in die eerste plek vir ons. Geld is deel van
sy goeie gawes, maar ons moet dit met wysheid aanwend. Ons sou in
elk geval nie kon werk vir geld as God ons nie met gesondheid en breinkrag
voorsien het nie. Ons moet nie ons geld op onsself verkwis nie. Ons moet
ook nie geld mors deur dit onverantwoordelik weg te gee nie. Paulus skryf
in 2 Kor. 8 dat daar ‘n bepaalde ritme in die kerk moet bestaan:
Mense wat oor besittings beskik, moet oop harte en hande hê vir gelowiges
wat baie min of niks het nie. Later, wanneer daardie mense weer iets besit,
moet hulle weer help indien die wat hulle bygestaan het weer swaarkry.
Die belangrikste is dat ons geld ook ‘n gawe van God is, dat ons dit nie sonder
Hom “verdien” nie, dat ons dit met wysheid moet bestuur, en dat ons God
met ons goed moet eer. Ons moet deurgaans op die uitkyk wees vir
medegelowiges wat ons in hulle nood kan help. Die Here wil nie hê dat sy
kinders honger ly nie. Hy wil sy kinders deur sy kinders versorg. Daarom moet
ons ook self met vrymoedigheid aandui as ons dringend hulp nodig het.
Die Here wil ons ook deur medegelowiges versorg.
Wees vandag die Here se hande en voete.
Kom ons steek ons trots in ons sak,
en dien mekaar met die gawes wat God gee!
So rig ons mekaar op in diens van die Here!
Ernest