Geloof wat gee, vermenigvuldig God se seëninge!
Kyk net wat skryf Paulus in 2 Korintiërs 9:11:
“Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid
vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid
tot gevolg dat God gedank word.” Merkwaardig:
Uiteindelik word God gedank!

Die groot geheim oor geld in die koninkryk van God is 2 Korintiërs 9:8-11.
Jy moet dit eenvoudig gaan lees. Dit begin by ‘n handvol sand waarmee
God jou vertrou. Met ander woorde, jou paar aardse besittings. Nou kan
jy een van twee dinge hiermee doen: Of jy hou dit net vir jouself, óf jy saai
dit in God se saailande deur dit ruim te begin weggee. Hierdie waarheid is
in ons materialistiese wêreld moeilik om te verteer. Dit druis in teen die
hele grein van die wêreld waarin ons leef. Wanneer jy egter gelowig begin
saai op God se saailande en jou besittings met ander deel, dan kies God
van sy kant af om hemelse water op jou saad uit te giet! In oorvloed!

Nog meer, Hy sorg dat jou vrygewigheid ‘n ryk oes oplewer. Maar selfs
dit is nie al nie. Jy word dan geseën met nog meer saad om te gaan weggee.
“ You can never outgive God”. Hoe meer jy gee, hoe meer kry jy by die Here,
om weg te gee. En hoe meer jy bly weggee, hoe meer verheerlik dit God!
Jou vrygewigheid het tot gevolg dat God gedank word!...sê Paulus.
God laat al die saad wat jy weggegee het op sý eie maniere groei!
Sy koninkryk neem gestalte aan in ander mense se lewe en hulle word in
hulle geloof opgebou! Hulle bring dan al hoe meer dank en eer aan God!

Een fout moet ons egter verseker nié maak nie: Moenie gee om te ontvang nie.
Wees doodseker daarvan wanneer jy gee. Anders gee jy met die verkeerde
motiewe. God sien dwarsdeur ons en God is nie met ‘n “rewards”-program
besig om ons te beloon as ons iets vir Hom doen nie. Gee slegs om God te eer
en om ander mense se lewe op te bou. Laat die res aan God oor. Op sy eie tyd
sal Hy sorg vir nog saad wat jy verder kan uitstrooi. Val eenvoudig net in by die
hemelse ritme van gee, en gee, en gee.

Jy sal altyd meer as genoeg hê om te kan gee, en gee, en gee,
en God kry die eer en dank!

Ernest