God onthou jou altyd in genade. Jesus vergeet jou nooit in genade nie.
Ons ken die versoek van die misdadiger langs Jesus aan die kruis. Hy het
net een ding van Jesus gevra. Dat Jesus hom sou onthou en aan hom sou
dink wanneer Hy later in God se koninkryk aankom. Net dit. Hy bedel niks
meer as ‘n gedagte aan hom by Jesus nie. Maar kyk net wat gebeur, bo ons
menslike verwagting ten opsigte van hierdie misdadiger!
In ‘n hemelse genade oomblik antwoord Jesus hom met die beste woorde
wat hy nog ooit gehoor het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
– Lukas 23:43. Wat ‘n antwoord! Wanneer ons hieroor gaan sit en dink, besef
ons net hoe groot God se genade bo ons begrip is. Hierdie is ‘n misdadiger,
tot aan die kruis langs Jesus! Om te dink hy vra net ‘n gedagte, en hy kry die
hele ewigheid daarmee saam. Maar dink ook daaraan: Hierdie Jesus wat langs
hom gekruisig word, hang aan hierdie kruis ter wille van hóm ook!
Dit laat ons besef: Daar is nooit tyd te mors om vir genade te pleit nie. Doen dit!
Daar is ook nie doodse stilte en geen reaksie van die Here se kant af nie. Selfs nie
eers terwyl Hy besig is om self te sterf nie! Jesus antwoord onmiddellik. Hy antwoord
teen genadespoed. God se genade is eenvoudig so oneindig groot. Die Here kom ook
in genade die heel naaste aan jou wanneer jou nood op die grootste is. Dink maar aan
Job. Dink ook aan gebeurtenisse in jou lewe waarvan jy kan getuig. Ons sê maklik:
“Wanneer die nood op sy hoogste is, is die uitkoms daar.” Ons moet eerder se:
“Wanneer die nood op sy hoogste is ontdek ons die genade van God op ander nuwe
maniere.” Die Here kom dikwels die heel naaste aan ons wanneer Hy juis die verste
van ons af voel. So ontdek ons sy genadige teenwoordigheid dikwels soveel eer intens.
Die Here oorbrug hierdie “afstand” van jou kant af elke keer weer in genade van sy
kant af. Vra die Here om jou te help om nooit van sy goedheid en teenwoordigheid
te vergeet in jou lewe nie. In elke dag, elke oomblik. In die moeilikste van tye en
oomblikke. As die Here die misdadiger-sondaar aan die kruis hoor, wat net ‘n gedagte
van genade bedel, hoeveel te meer sal Hy nie aan jou skenk, wat sy kind is nie.
Al vergeet ons dikwels van God in sekere omstandighede, Hy sal jou nooit vergeet nie,
nooit ooit nie...in watter omstandighede ookal.
Ernest