“Die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel
in die tempel het middeldeur geskeur.” – Lukas 23:45.
Wanneer die son sak is dit gewoonlik huis-toe gaan tyd.
Dan is ons werksdag verby en ons gaan ontspan by die huis.
Desembermaand is ook vir die meeste mense uitspan-maand.
Daar is ‘n vakansie en ontspan-tyd in die vooruitsig. Veral hier
oor kerstyd en die nuwe-jaar.

Wanneer die son sak vir Jesus aan die kruis is dit nie huistoe gaan
tyd nie. Wanneer die son daardie Vrydag sak, moes Jesus steeds aan
die houtkruis hang vir ons sonde en oortredinge.
Die geboorte van Christus het reeds die kruis in die oog gehad. God het
mens geword en onder ons kom woon, om vir ons aan die kruis te kom
sterf! Gebore om te sterf. Dit is die prys wat Jesus moes betaal om die
enigste pad na God se hart toe te herbou. Maar nie eers daardie
donkerte kon maak dat Jesus van ons vergeet het nie.

Enduit onthou Jesus ons! Jesus het ons juis op die heel beste daar aan
die kruis onthou. In die diepste lyding en pyn, liggaamlik en geestelik,
onthou hy ons. Hy het aarde toe gekom daarvoor. Hy is gebore daarvoor.
Hy het gekom om ons te oortuig dat God nooit ooit van ons sal vergeet nie.
As Jesus op die mees verlate plek op aarde aan ons dink, daar aan die kruis
waar Hy Godverlate is, dan sal Hy in ewigheid nooit ophou om ons te
onthou nie!

Genadiglik kom die son weer op. Jesus kan nie in die donker Godverlatenheid
vasgekeer word nie. Hy is die Lig vir die wêreld, juis daar aan die kruis. Aan die
kruis verskuif duisternis na lig. Daar verwissel ewige dood na ewige lewe.
Daar vind God se vryspraak plaas vir elkeen wat Christus se offer in geloof
omhels, tot redding. Daar word ware lewe verniet en vir altyd aan ons uitgedeel.
Die son het opgekom om met lewe in sy strale oor ons te skyn! Die Seun is van
die kruis af, en uit die graf uit! Vier dit hierdie kersfees met die fees van die Lig!
Dink aan God wat jou nooit sal vergeet of los nie, wanneer jy hierdie kersgety
Jesus se geboorte oordink en vier.

Ernest