“Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.
Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog
in Galilea was.” – Lukas 24:6.
Baie mense word geboei deur die “ander kant”. Daar is baie boeke
aan die omloop oor die lewe na die dood. Wanneer iemand vertel
dat hy of sy in die “hemel” was, dan wil almal dit lees. Ons wil in
detail weet van die lewe anderkant die graf. Ons wil weet oor ons
geliefdes en hoe dit daar “saam met hulle” gaan wees.
Is dit die belangrikste?...dink jy?
Goeie nuus: Die belangrikste “ander kant” is dié van Jesus!
Op die derde dag na sy kruisdood in Jerusalem staan Hy op,
uit die dood! Die doderyk en die dood is oorwin. Vir ewig getroef.
Op Paassondag is die dood finaal dood verklaar deur God! Jesus het
die greep van hooploosheid op die mens gebreek. Die dood is vernietig.
Die oorwinning is behaal! Die belangrikste oor die “ “ander kant” is dat
Jesus daar is! Dat my fokus totaal op Hom, op God drie-enig gaan wees.
Aan die duskant, waar ons nou nog leef, moet ons fokus op die Here God
aan die “ander kant”! Alles gaan daar oor Hom. Ons sal doodgewoon nie
op enige iets anders fokus nie! Lees maar die boek Openbaring.
Die dood het doodgeloop teen Jesus. Tot in ewigheid onthou ons elkeen.
En ons sal by Hom wees. Elkeen wat in Hom glo. Elkeen wat Hom aanvaar
as Verlosser en aanbid as Here!
Hoor mooi: Jesus onthou jou so goed dat Hy op hierdie einste oomblik wat
jy nou hier lees, besig is om vir jou plek voor te berei om vir altyd by Hom
te bly in die Vader se woning! Hier aan ons kant moet ons nie van Jesus
vergeet nie! Moenie die Verlosser, Here, uit die oog verloor met ‘n liggie
en ‘n maaltyd en ‘n geskenkie, om Kersfees te vier nie. Onthou Hom, en
onthou die kruis, en vier jou nuwe lewe in Hom! Onthou Hom soos Hy jou
onthou. Dan is die “ander kant” die plek waar jy alleen by Hom wil wees,
voor die Vader se troon vir ewig en altyd.
Onthou met hierdie Kersfees die heel belangrikste: Dat Jesus jou nooit
vergeet nie, en dat God jou nooit ooit los nie. Jy is sy kind.
Daarvoor is die Kind gebore!
Ernest