Ons vier met Kersfees die geboorte van Jesus Christus.
Hy het na die wêreld gekom as gevolg van God se liefde vir al sy skepsels!
God se bedoeling is om almal te red van hulle doodsbestaan sonder Hom.
God het elke mens lief wat Hy skep!
Johannes 3:16 beklemtoon hoe universeel God dit vir almal bedoel om gered
te word: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het,
sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Ons vier Kersfees met hierdie wete: God bedoel in sy liefde vir almal om gered
te word, en gee daarvoor sy Seun, om in hulle plek die sondelas aan die kruis te
dra en daarvoor te betaal. Want die loon van die sonde is die dood. Maar elkeen
moet in geloof die plaasvervangende sterwe van Christus aanvaar om versoening
met God te hê. God doen alles. Ons moet dit in geloof aanvaar en bely. Vers 17 sê:
“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie,
maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” Die oordeel behoort aan God.
Dit is nie vir ons om te veroordeel nie. Daarom sê vers 18: “Wie in Hom glo, word
nie veroordeel nie; wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste
Seun van God glo nie.”
Ons moet nie ons Christelike feeste gebruik of vier om mense te veroordeel nie,
maar juis as getuienis van die waarheid dat God elkeen liefhet en wil red! Vers 18
word deur God uitgevoer. Nie deur ons nie. Paulus het ook gesê dat ons die oordeel
aan God moet oorlaat. Hoewel ons Kersfees vier as ‘n Christusfees, moet ons nie die
mense veroordeel wat nog nie glo nie, maar die waarheid van die fees uitleef as
getuies wie se lig skyn vir ‘n wêreld wat in die duisternis is! Kersfees se boodskap lê
in Johannes 1:9: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.”
Ons hoor baie dat gelowiges praat van ons en “hulle”. Ons moet onthou dat ons ‘n
getuienis-taak het waarmee Jesus ons uitstuur na “hulle”. Wat sal gebeur as ons regtig
verantwoordelikheid vir ons getuienis-taak aanvaar, en daarmee verantwoordelikheid
vir ons en “hulle” voor die Here. Wat sal gebeur as ons deur die viering van Kersfees
werklik uitreik en getuig en elkeen van “hulle” bereik met deernis en die waarheid van
die ware boodskap van Kersfees. Dan sal daar al hoe minder van “hulle” wees en al hoe
meer van ons.
Kersfees is nie ‘n fees van oordeel en veroordeel nie, maar dra die boodskap van
verlossing tot redding vir elkeen wat gló! Daarom moet ons Kersfees met integriteit
voor ons hemelse Vader vier, in Christus.
Jy sien...God ken “hulle”. Hy onthou nie net vir ons nie. Hy onthou ook vir “hulle”!
Jesus het ook vir hulle gekom met sy geboorte. Hy vergeet nie van “hulle” omdat
hulle droogmaak en die spoor byster is nie. Hy hoor as ons praat van “hulle” sonder
om iets vir “hulle” te doen. Daar is die “hulle” wat volhardend sal aanhou om nie te
glo in Christus as Verlosser nie. Maar daar is ook die “hulle” wat op ons pad kom en
wat dink dat God hulle vergeet het en opgegee het met hulle. Hulle dink die lewe se
hoop en vreugde is vir hulle oor en verby. Ons roeping is om met God mee te werk
dat “hulle” dit nie een dag langer sal dink of voel nie.
Leef so dat “hulle” sal sien Wie God is en wat God doen. Dat jy God onthou,
omdat Hy eerste en bo alles vir jóú onthou het! God se genade strek baie weier as
“ons”. Sy liefde is regtig ook vir “hulle” bedoel. Leef “hulle” in hierdie feesgety raak,
met God se liefde en deernis!
Ernest