“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.” – Kol. 1:15.

As jy na Jesus kyk, sien jy God.
Want Jesus is die ewebeeld van sy Vader.
Dit wat God doen, doen Jesus ook.
Om Jesus in aksie te sien, is om God in aksie te sien.
Jesus doen presies wat God doen.

Jesus bestaan van altyd af.
Sy “begin” is ewighede voor Genesis se skepping.
Van altyd af!
Voor tyd, bo tyd.
Jesus het geen fisieke begin en einde nie.
Net soos die Vader en die Gees is Hy ewig.
Sonder begin.
Sonder einde.

Jesus se geboorte beteken nie dat Hy toe vir die eerste maal die lewenslig gesien het nie.
Hy het nie iewers ontstaan nie.
Hy bestaan van altyd af.
Natuurlik is dit veels te groot vir ons koppe want ons kan eintlik nie buite die dimensies van tyd, ruimte of materie dink nie...
Ons het ‘n begin, ‘n tydsverloop en ‘n einde...

God is Vader Seun en Gees.
Ook dit is “bo” ons begrip.
Ons kan dit hoogstens probeer verstaan en verklaar...
maar hoe kan ons?

Johannes 1:1-3 sê treffend:
“In die begin was die Woord daar,
en die Woord was by God,
en die Woord was self God.
Hy was reeds in die begin by God.
Alles het deur Hom tot stand gekom:
ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan,
het sonder Hom tot stand gekom nie.”

Jesus het mens geword... en ook God gebly.
Volledig mens, sonder sonde!
Volledig God!
Heilig!

Ja, Hy is die ewebeeld van God self.
Die weerkaatser van alles wat God dink en doen en sê.
Om met Jesus te doen te hê, moet ons elke dag met groot ontsag vir Hom vul.
Ons moet in nederigheid neerbuig voor die Kind in die krip,
soos die wyse manne,
en Jesus aanbid aan die kruis as Here wat die dood oorwin,
en voor Hom buig wat nou aan die regterhand van God heers tot in ewigheid. “

Ernest