Met die kersgety kan Jesus alte maklik “kleiner” gemaak word
as Wie Hy werklik is. Jesus word teruggeplaas in die krip en met
allerhande kersgebruike “verbloem”. Dit is baie belangrik dat ons
veral in die tyd van Kersfees moet besef hoe groot en Wie Jesus is.
Kolossense 1:19 sê: “God het besluit om met sy volle wese in Hom
te woon...” Jesus is God. Hy besit daarom dieselfde status as die Vader.
Maar Jesus het ‘n eie identiteit. Hy is nie net een van baie gesigte van
God nie. Jesus bestaan apart van die Gees en die Vader. Jesus se taak
is om sy lewe vir die stukkende wêreld te gee. Maar Jesus staan ook
volledig aan God se kant. Hy is nie maar net ‘n belangrike wese,
soos ‘n engel of ‘n gerub nie. Allesbehalwe. Hy besit presies dieselfde
mag en status as God. Daarom dat Hy net soos die Vader aanbid en
vereer moet word. Ons moet op dieselfde manier voor Jesus buig as
wat ons voor God buig. God woon met sy heilige teenwoordigheid
volledig in sy Seun. Daarom beklee Jesus die belangrikste plek in die
heelal.
Ontdek opnuut saam met die kerk in Kolosse hoe groot en belangrik
Jesus is. Ontdek sy almag en grootheid. Ontdek ook sy reddende nabyheid.
Sien dat Hy alle bose magte in sy hand toedruk. Sien ook dat Hy jou en alle
ander gelowiges so lief het dat Hy ons op dieselfde hand dra.
Paulus sê: “Dit is die evangelie...waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.”
– Kol 1:23.
Nederige kinders van God huiwer daarom nooit om op te staan wanneer die
Here se Naam in gedrang is nie. Maar jy plaas nie heeltyd die wêreld se lig op
jouself nie. Kinders van God praat eenvoudig groot oor Jesus, as God. In hulle
gebede en gesprekke met ander staan God se eer voorop. Hulle bly altyd
bedienaars van die Goeie Nuus oor Christus en Wie Hy werklik is.
Dien in hierdie tyd so dat Jesus in jou gesien word, dat mense besef
Wie Jesus is, en dat mense die knie voor Hom sal buig en Hom sal aanbid!
Ernest