Sien ander mense Jesus in jou leef?
Sekere dinge gebeur elke Kersfees. Mense koop net meer en meer.
Holrug geryde Kersliedere word oor en oor gehoor in winkels.
‘n Klompie predikers raas tussendeur met die mense oor die
kommersialisering van Kersfees en mense se nimmereindigende
koop-gierigheid. Dan is daar ook diegene wat nog ernstiger raas
en waarsku dat Kersfees ‘n heidense fees is en dat Kersbome die
duiwel in vermomming is. Dan is daar ook in ons Somerkersfees
in Suid Afrika die tipiese lekker kuiers saam met vriende en familie.
Jesus het vir mense soos ons gekom. Hy het ons lief ten spyte van
al ons “geite” en die spoke wat ons opjaag. Hy het ons lief met al
ons gierigheid, suinigheid, godsdienstigheid... Maar ons moet weet,
Hy wil dit uit ons lewe verwyder. Met hierdie Kersfees word dit weer
opnuut beklemtoon. Jesus het gekom om ons nuut te maak. Hy het
ons lief ten spyte van, maar Hy het ons te lief om ons net so te laat
staan soos ons is. Hy keer jou hele lewe om.
Besef dit weer in hierdie feesgety.
Dit laat jou dink aan die seuntjie wat by die koshuis vir die vriendelike
weldoener ouderling gevra het of hy Jesus is? “Is oom se naam dalk Jesus?”
Daardie man was vir almal soos ‘n liefdevolle vader. Hy was ‘n lewende
voorbeeld van iemand wat opreg lief is vir die Here en sy mense. Al die
mense in die gemeenskap het hierdie man bewonder wat so opreg in
Jesus se voetspore loop. Maar toe vat dit ‘n klein seuntjie van die kinder-
huis om dit op die naam te noem, om woorde te gee aan hierdie oom se
ware karakter. Vandag nog loop ons hierdie mense raak.
Want hulle leef ons raak met die liefde van Jesus! Hulle leef so naby aan
die Here dat hulle lewe magneties is. Hulle lewe maak dat Jesus vir ons
onweerstaanbaar raak! Hulle trek ons na die Here toe. Dit alles is natuurlik
die werk van die Here in en deur hulle... maar ons weet húlle is Christus se
eietydse Kersgeskenke aan ons! Aan ‘n wêreld wat smag na egte liefde.
Hierdie Kersfees tyd moet ons daaroor dink...
Wil die Here nie van ons lewende geskenke aan ander maak nie?
Mense wat dien met die liefde van die Here. Moet ander mense nie meer
van Jesus in ons raaksien nie? Dan het ons fokus op die regte manier na
Hom geskuif met hierdie Kersfees gety.
Ernest