Advent is die tyd op die Christelike kalender wanneer
Christene die eerste koms van Jesus na hierdie wêreld gedenk,
terwyl hulle reikhalsend uitsien na sy wederkoms.
Gedurende Advent word hoop, vrede, vreugde en liefde beklemtoon.
Dit wat God in Christus na ons toe gestuur het met Christus se eerste
koms na die wêreld.
Hoop: Ons het ‘n erfenis wat in die hemel vir ons bewaar word.
‘n Lewende hoop deur die opstanding van Christus uit die dood.
1 Petrus 1:3-5 beklemtoon dit.
Vrede: Ons sal goeie dae beleef indien ons wegdraai van die kwaad af,
die goeie doen, en vrede najaag. Want God waak oor ons en hoor ons
gebede. 1 Petrus 3:10-12 beklemtoon dit.
Vreugde: Ons sal onuitspreeklike vreugde beleef, al word ons beproef
en ons geloof getoets. Die gevolge van hierdie geloof is ons redding!
1 Petrus 1:6-9 beklemtoon dit.
Liefde: Ons kan mekaar met ‘n rein hart liefhê, want ons is weergebore
deur die lewende Woord van God wat altyd daar sal wees.
1 Petrus 1:22-23 beklemtoon dit.
Omdat Jesus die eerste keer gekom het, kan ons hoop, vrede,
vreugde, en liefde beleef totdat Hy weer op die wolke kom!
1 Petrus 1:13: “Vestig julle hoop volkome op die genade wat julle
deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.”
Die hoop wat ons in Christus het, vervul die hart met vreugde en vrede.
En wanneer ons die liefde van Jesus ken, weet ons Hy is by ons en verhoor
ons gebede. Indien jy gedurende hierdie Kersseisoen na hoop, vrede,
vreugde en liefde verlang, kyk dan na God wat Jesus aarde toe gestuur het,
juis om dit vir jou te bring!
Ernest