Reeds gedurende Adam en Eva se verblyf in die paradys,
het vrede op aarde verlore geraak! Die oomblik toe hulle die
verbode vrug geëet het, het hulle hul naaktheid besef en begin
om mekaar te beskuldig! Genesis 3:12-13: “Die mens het geantwoord:
“Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die
boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” Toe vra die Here God vir die vrou:
“Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
Praat van “blameshifting! Maar dit is vandag nog só. So het konflik God se
vreedsame en wonderlike planeet binnegekom. Deur ons. Die mens, soos ons.
Al die afstammelinge, en ons, het hierdie voorbeeld gevolg. Ons blameer mekaar
vir ons swak besluite. Ons word kwaad as ander sê dit is ons skuld, en beskuldig
dadelik iemand anders. Ons wil nie skuld aanvaar en skuld dra nie. Deur al die eeue.
So veroorsaak ons breuke in gesinne, kerke, gemeenskappe en volke. Ons kan nie
vrede maak nie en wil nie skuld erken nie.
Kersfees is die gebeure waar God vrede na hierdie aarde stuur. Vrede met ‘n hoofletter.
Daarom roep Kersfees ons dringend op om God se vrede te ontdek, dit te kies, dit te
omhels, en dit aktief te gaan uitleef. Die Ou Testament vertel ons reeds hoe God die
toneel voorberei het sodat Hy die Prins van vrede op presies die regte Goddelike tyd
gestuur het! Jesaja 9:5-6: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal
heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader,
Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede... bring.”
Jesus het gekom om die ewigdurende siklus van sonde finaal te breek, en vrede te
maak deur die prys daarvoor aan die kruis te betaal – Kol. 1:20. In plaas daarvan om
ons te blameer vir die sonde en onvrede, het Jesus die skuld in ons plek daarvoor
gedra! Nou verkondig Kersfees saam met die kruis en die opstanding die waarheid
van Kol. 1:21, 22: “Julle was voorheen ver van God af... Maar nou het Hy ook julle
met Homself versoen.”
Wanneer ons vergifnis van God ontvang, en die diepte daarvan net begin verstaan,
wil ons hoegenaamd nie langer vergifnis van ander weerhou nie. En wanneer ons
in vrede met God lewe, wil ons ook met ander vrede maak! Dit is ‘n doelbewuste
aktiewe daad om vrede te maak! Ons kan hierdie Kersfees opnuut God se vrede
ontvang, en die vrede en vergifnis van God gaan uitdeel deur vredemakers te wees!
Jesus het jou plek ingeneem om aan jou vrede te gee, om vrede te gaan uitdeel...
Gaan deel dit uit hierdie Kersfees tyd en in alle tyd daarna.
Ernest