Lees vandag hierdie boodskap vir die mense by jou:

“Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee:
‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring
en sy sal hom Immanuel noem.” – Jesaja 7:14. Immanuel sal
gebore word! Hoop! Reeds in Jesaja! Eeue voor Christus!
Immanuel is die Hoop vir die mensdom en sal dit altyd bly.
Jesaja 9 gaan nog verder met hierdie woorde: “Vir ons is ‘n
Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy
sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal
vir altyd vrede en voorspoed bring...”
Christus Jesus: Hoop vir die mensdom!

Voordat Jesus gebore is het die mensdom vir die Messias gewag.
Die Een wat hulle sondes op Hom sou neem en by God sou intree
ter wille van hulle – Jesaja 53:5: “Oor óns oortredings is Hy deurboor,
oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring
was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Die nag toe Jesus gebore is, is dié hoop vervul! – Lukas 2:1-14.

Alhoewel ons nie langer wag op Jesus se geboorte nie, is Hy nog
méér die bron van ons hoop! Ons leef in die Nuwe Testament
getuienis oor Hom. Die kruis! Die opstanding! Hemelvaart, wederkoms!
Ons is op die uitkyk vir Jesus, want Hy is aan’t kom! Deurgaans, komende!
In Matteus 24:30 belowe Jesus Self in die profetiese rede:
“Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn,
en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die
mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.”

Ons leef met hoop en verwagting! Ons droom oor die hemelse woning
wat Hy besig is om vir ons voor te berei, soos Hy Self belowe in Joh. 14:2.
Diep in ons harte leef die sekerheid, nou reeds, dat ons saam met Hom
in ewigheid gaan lewe. As kinders van die Here kan ons vooruitkyk na die
toekoms, want die Kind in die krip was en is steeds:
“Christus Jesus ons hoop”! – 1 Timoteus 1:1.

Die kern van Kerstyd is: “Immanuel”, God met ons! En ons lééf, voluit,
môre en oormôre, totdat Hy weer kom, met die sekerheid van sy belofte:
“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” – Matteus 28:18.
Inderdaad: Christus Jesus is ons hoop!

Ernest