Mediese navorsers soek onvermoeid na geneesmiddels vir
kanker en Altsheimer en ander vernietigende siektes van die
wêreld. Baie mense word deur hierdie siektes geraak en families
en vriendekringe is intens daarby betrokke. Maar wat daarvan as
ons eendag in die koerante sou lees: “Die dood vernietig nou mense!”
Dit klink snaaks om dit te sê...of is dit? Sou jy dit glo? Kan jy dit glo?
En tog, inderwaarheid is dit so! Ons fokus op siektes, terwyl die dood
opsigself mense vernietig tot in ewigheid!
Die Nuwe Testament verklaar uitdruklik dat, vir ‘n kind van die Here,
is die dood sélf finaal vernietig! Die dood is nou magteloos in terme van
‘n kind van die Here en kan nie meer ‘n kind van die Here vernietig nie!
Lees dit aandagtig: “Wanneer hierdie verganklike liggaam met die
onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike,
dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig,
die oorwinning is behaal.” – 1 Kor. 15:54.
Dit is die wonderlikste nuus vir elkeen wat dit glo. Net soos die nuus
wat die skaapwagters van die engele gehoor het: “Moenie bang wees nie,
want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die
hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die
Verlosser gebore, Christus die Here.” – Lukas 2:10,11. Die geboorte van
Jesus is die begin van die einde vir die dood. Lees dit weer: Die geboorte
van Jesus is die begin van die einde vir die dood! Daarom kan ons jubel in
die woorde van Paulus in 1 Kor. 15:56 en 57: “Die angel van die dood is die
sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God
dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”
Ons veg steeds teen allerhande siektes, terwyl die dood self besig is om
mense te vernietig. Sal die wêreld nie in hemels naam na God toe draai en
die oorwinning in Jesus kry oor die dóód nie! Bid daarvoor en leef daarvoor!
Die Here wil deur jou die genesende oorwinning van Jesus oor die dood bring,
vir die wêreld. Gaan verkondig dit met elke woord en daad!
Die geboorte van Christus bring God na die mens.
Die kruis van Christus bring die mens na God.
Ernest