Let op wat staan in die opskrif: Waarvoor aanbid jy?
Nie: Wie aanbid jy nie, maar waarvoor aanbid jy?
Vir baie mense het die “waarvoor” belangriker geraak as die “wie”.
Het jy in die afgelope jaar aanbid vir wat jý daaruit kon kry, of om
jouself te gee. Het jy die Here gedien ter wille van die “byvoordele”,
of deur jousélf onvoorwaardelik te offer? Dink maar net aan Rom. 12:1:
“...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom
aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet
beoefen.” Die wesentlike! Baie mense “dien” die Here ter wille van
byvoordele soos gesondheid, geluk, materiële seën...

Dink aan die gebeure in Efese in Handelinge 19. Indien jy mense wil
ontstel, bedreig dan net hulle ekonomiese situasie. ‘n Swak ekonomie
het al daartoe gelei dat politici uit hulle poste verwyder is. Deur die
geskiedenis het selfs ook Christene gely omdat hulle geloof ‘n bedreiging
was vir die ekonomie. Dit is wat hier in Handelinge gebeur. Dreigemente
dat die ekonomie in Efese in duie sal stort, het die gemeenskap so opge-
sweep sodat Paulus byna uit Efese verdryf is.

Hier is wat gebeur het: Paulus het na die stad gekom en in die sinagoge
met die Jode geredeneer en die evangelie van Jesus verkondig, volgens
Handelinge 19:8. Vir langer as twee jaar het hy hierdie boodskap aktief
verkondig en uitgedra. Omdat hy daarin geslaag het om inwoners te laat
insien dat daar net een ware God is, en dat die godin Diana ‘n valse god is,
het die lokale silwersmede groot skade gely. Hulle het afgodsbeelde van
silwer van Diana gemaak en dit verkoop. Hulle was nou bang dat as baie
mense ophou om in Diana te glo en beelde van haar te koop, hulle
silwersmede besighede verlore sou gaan. Verder: Handelinge 19:27:
“Die gevaar is ook dat die tempel van die groot godin Artemis sy betekenis
sal verloor en dat sy van haar grootheid berowe sal word.”
Hierdie ekonomiese vooruitsig van groot verliese het daarom
‘n groot oproer laat ontstaan.

Nou: Hierdie insident in Efese herinner ons daaraan dat ons die redes
waarom ons die Here aanbid mooi moet ondersoek onder leiding van die
Heilige Gees. “Waarvoor” aanbid ons, of “Wie” aanbid ons? Die mense in
Efese wou hulle godsdiens beskerm sodat hulle nie finansieel skade ly nie.
Is ons nie dalk ook met godsdiens besig om “nie finansieel skade te ly nie”?
Dit kan gaan oor finansies, of gesondheid, of wat ookal, wat net eenvoudig
vir jou so belangrik is dat jy daarvoor “aanbid” in plaas van om God deur die
Gees en in waarheid te aanbid. Hierdie is ‘n fyn onderskeiding wat ons dring
tot selfondersoek. Dien ons ten diepste onsself, of dien ons die Here?

Ons aanbid God omdat Hy is Wie Hy is, en omdat ons nie anders kan as om
Hom bo alles en almal lief te hê nie, en ons naaste soos onsself. Ons aanbid
God nie vir wat ons kan kry nie. Ons het reeds in Jesus alles ontvang!
Gee jouself as lewende en heilige offer wat vir God aanneemlik is – Rom. 12:1.

Ernest