Die prys wat onskuldige mense vir die inhaligheid van ander
betaal is skrikwekkend. Hoe het ons in die afgelope jaar ander
mense behandel? Materieel en geestelik. Menswaardig of onmenslik?
Ons moet ‘n baie belangrike waarheid onthou oor hoe ons ander mense
behandel. Dit wat jy aan hulle doen kom terug na jou toe. Galasiërs 6:7
beklemtoon dit: “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot
nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.” Wat jy in ander mense se lewens
saai, sal jy ook oes.

‘n Opmerking wat Frederick Douglass, ‘n voormalige slaaf en later
kampvegter vir menseregte gemaak het, laat jou dink: “Geen mens kan
‘n ketting om die enkel van ‘n ander mens plaas, sonder om terselfdertyd
die ander punt van die ketting om sy eie nek vas te maak nie.”
Moenie jouself mislei in hoe jy mense behandel nie. God laat nie met Hom
spot nie. Elke mens is deur Hom geskep na sy beeld. Wat jy saai, dit sal jy oes.
In die proses waarin jy ander mense hul menslikheid ontneem, ontneem jy
ook jouself van mens wees voor die Here!

Paulus se woorde herinner ons daaraan dat ons keuses besliste gevolge het.
Dit sluit verseker die manier in waarop ons ander mense behandel. Die toets
lê in die “geringstes” wat jou pad kruis. Hulle vir wie jy die minste tyd het en
wie jou die meeste irriteer. Hoe behandel jy húlle? Die woorde van Jesus in
Matteus 25:40 stamp ons hard: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan
een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan
My gedoen.”

Ons weet nie hoe dit terugkom na ons nie. Haat kan na ons toe terugkeer op
‘n manier wat ons nie eers weet of verwag nie. Dit kan vervreemding van jou
eie mense wees, of bitterheid, ‘n ongelukkige bitter lewe, fisiese of geestelike
gesondheid, onvergenoegdheid, en dat jy veral nie die Here met vrymoedigheid
kan dien nie. Die manier hoe jy mense behandel staan soos ‘n berg tussen jou
en die Here...

Die belangrike is: Moenie jouself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie.
Wat jy saai, dit sal jy ook oes. Keuses het gevolge. Verreikende gevolge!
Laat ons liewer die ander keuse uitoefen: “Laat ons dan nie moeg word om
goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd
ook die oes insamel ... laat ons dus aan almal goed doen.” – Gal. 6:9,10.
Die saad wat ons vandag saai bepaal wat ons môre sal oes.
Moenie jouself mislei nie! God laat nie met Hom spot nie...

Ernest