Baie mense het in hierdie jaar baie swaargekry.
Dit was nie ‘n maklike jaar nie. Nie ekonomies nie, nie wat
openbare gesondheid betref nie, en in baie gevalle het baie
mense indiwidueel swaar getrek. By geleentheid het almal van
ons al gewonder: Waar is die Here in my probleme?
M. Scott Peck begin sy boek “The Road Less Traveled: A New
Psychology of Love, Traditional Values and Spiritual Growth”
met hierdie treffende en bekende woorde: “Life is difficult....”
Net hierdie kort sinnetjie. Verder sê hy dan: “This is a great truth,
one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly
see this truth we transcend it....”
Dikwels in die lewe lyk dit asof ongeregtigheid seëvier, maar nogtans
swyg God. So lyk dit. Asof God afwesig is, of te besig is vir my. Tog het
ons ‘n keuse hoé ons ten opsigte van ons probleme wil reageer.
Die profeet Habakuk is hierin ‘n goeie voorbeeld. Hy het ‘n doelbewuste
keuse gemaak om hom in die Here te verbly. Habakuk het Israel se geestelike
en morele agteruitgang aanskou. Omdat Hy ‘n profeet van die Here is lê dit vir
hom baie naby aan sy hart. Dit het hom diep bekommer. Wanneer Hy met God
daaroor worstel, dan ontstel God se reaksie hom nog baie meer!
God het besluit om die Babiloniërs te gebruik om sy volk te straf! Habakuk sê:
“Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele
liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig
wag...” – Hab. 3:16.
Habakuk kon God se optrede nie verstaan nie. Maar hy het geleer om nogtans
op God se wysheid, geregtigheid en soewereiniteit te steun en te vertrou.
Hy het nie ‘n idee hoé Israel hierdie krisis gaan oorkom nie! Maar hy het geleer
om God alleen te vertrou te midde van ongeregtigheid, lyding en verlies. Hy sou
deur geloof in God alleen volhard. Met hierdie geloof het vreugde en vrede gekom
wat alle verstand te bowe gaan, soos Paulus in Filippense 4:7 sê. Die vrede en
vreugde ten spyte van negatiewe omstandighede, swaarkry en lyding.
Ook ons kan juig, ja, regtig in die Here jubel, te midde van ons beproewinge.
Ons kan in dit alles op God vertrou en leef met die wete dat Hy soewerein is
en in beheer van alles is. Saam met Habakuk kan ons jubel en die nuwe jaar
wat voorlê ingaan: “...nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my
Redder. Die Here my God gee vir my krag...” – Hab. 3:18-19.
Jy het ‘n keuse hoe om te reageer op swaarkry en lyding.
‘n Kind van die Here is nie ‘n slagoffer van omstandighede nie.
Nogtans...sal ek in die Here jubel!
Ernest