‘n Koning het twee seuns gehad. Wanneer die een seun by hom
opgedaag het moes die knegte dadelik vir hom alles gee wat hy
wou hê sodat hy so gou moontlik van die paleis kon wegkom.
Hy was arrogant en alles het net oor homself gegaan. Die koning
kon hierdie kind nie meer uitstaan nie, en het hom alles gegee
wat hy wou hê sodat hy nie by die paleis vertoef nie.
Die koning het egter baie gegroei in sy liefde vir die ander seun,
wat graag in die teenwoordigheid van die koning tyd deurgebring
het. Wanneer hy iets by die paleis kom vra het, moes die knegte
dit nie dadelik gee nie, maar hom laat wag totdat sy pa hom kon sien.
Al wat die koning begeer het, is dat hierdie seun tyd in sy teenwoordig-
heid deurbring. So het hulle liefde vir mekaar bly groei, en baie groter
geraak as dit wat hierdie seun van tyd tot tyd kom haal het.
Dit het die koning se hart gebreek dat die ander seun net heeltyd
dinge van hom wou hê maar nie sy liefde en teenwoordigheid
waardeer het nie.

Hierdie verhaal sê vir ons iets en laat ons dink aan ons gebeds-
verhouding met die Here. Natuurlik het elke storie of beeld sy
tekortkominge. Maar die vraag is of ons ook net soos die eerste
seun dikwels die Here in gebed “besoek” net om ‘n behoefte-lys
aan Hom voor te lê waarin Hy moet voorsien? Dat dit eintlik maar
gaan om ons arrogante sélf met ‘n gebed-sousie daaroor.

God is “soos hierdie koning”. Hy weerhou soms dinge van
ons ter wille van onsself. Om ons meer in sy teenwoordigheid
te hê, om sy liefde met ons te deel, om sý teenwoordigheid by
ons te beklemtoon. Hy sê “nee” omdat Hy weet wat goed is vir
ons, sodat ons nie soos die eerste seun arrogant raak en dink
ons moet alles kry wat ons vra nie. Ons moet nie in bedorwe
geestelike brokkies verander nie. Ons kan nie net in gebed kom
vra en dink God moet reageer nie.

Ons moet “stil wees” by die Here en nie heeltyd ‘n stortvloed
van woorde gebruik nie. Met respek en eerbied gesê:
Dikwels draai ons gebede so om onsself met so baie wat ons
van God vra en vir Hom te sê het, dat Hy nie ‘n woord inkry nie.
Ons moet meer luister na God en minder praat in gebed.
Te veel woorde staan dikwels in ons pad om ware ontmoetings
met die Here te hê. Die Here se grootheid en teenwoordigheid
moet alreeds vir ons so gróót wees, en meer as genoeg wees.
Gebed gaan oor God! Om net aan die voete van die Here tot rus
te kom en dit as geneesmiddel vir ons moeë siele te ervaar,
is die hoogtepunt van ons bestaan! Werklik!
Dit is God se wil vir ons om by Hóm te wees!

Ernest