Psalm 63 se skrywer smag daarna om net gedurig voor God
te verskyn. Ware gebed is ‘n nimmereindigende dors na ‘n
inniger verhouding met God. Let wel: Gebed is nie om in die
eerste plek na antwoorde en gebedsverhoring te soek nie,
maar na ‘n dieper verhouding met God. Sulke gebed word nie
deur die regte woorde of die groot hoeveelheid woorde gedra
nie, maar deur ‘n lewende verlange na die Here!

Lang gebede is nie kragtiger of belangriker as korter gebede nie.
Egte gebed is om ‘n passie en ‘n groot liefde vir God te hê. Dit word
aangevuur deur ‘n voortdurende soeke na sy teenwoordigheid in jou
hele lewe. Gebed is ‘n lewenslange liefdevolle verhouding tussen God
en ons. Dit word deur Christus se offer aan die kruis tot stand gebring
en daardeur het ons nou vrye toegang tot God! Gebed is om in die
teenwoordigheid van die Here te vertoef, al sê of vra ons selfs niks.
Gebed is om “tuis” te wees, by die Here self te wees, Hom lief te hê
en in rus by sy voete te sit. Dit is om saam met Psalm 23 te weet:
“Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.”

Dit is Psalm 63:2: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U;
ek smag na U soos ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.”
Dit is juis een van die kenmerke van die Heilige Gees se werk,
dat jy heeltyd smag na ‘n dieper wandel met die Here. Soos ‘n
wildsbok wat smag na water, so smag jou siel na God. Dit hou
net nie op nie. Nooit nie. Nooit bereik jy ‘n punt waar jy “genoeg”
het nie. Saam met Paulus weet jy dat jy nog nie daar is nie. Saam
met Moses wil jy die Here se heilige teenwoordigheid sien, al moet
jy, soos hy, in ‘n rotsskeur wegkruip wanneer Hy verby beweeg.
Soos Elia op Karmel sal jy jou gesig met ‘n mantel bedek as die sagte
fluistering van God in die windstilte net voor jou kan verbybeweeg.

Wanneer God jou alles word, verander die aard en tekstuur van
jou gebede. Dit word meer en meer lof en aanbidding. Verwondering,
in God se teenwoordigheid. Die uitjubel van sy goedheid.
Die smag na meer lewende water.

Samuel Chadwick sê treffend oor opregte nederige gebed,
en die stille teenwoordigheid by die Here:
“Satan vrees net een ding: ons gebede. Hy vrees nie ons
godsdienstigheid nie. Hy lag oor ons “goeie werke”. Hy spot met
ons geestelike trots. Maar hy bewe as ons bid.”
Kan jy anders, kan jy ánders as om in hierdie jaar net te smag na
Groei, en groei, en groei in aanbidding aan die Here se voete?...

Ernest