Die Bybel is die roete-gids na God se wil.
Hoe kan ons weet wat God se wil vir ons is as ons
nie die Woord van God lees met die doel om God
se wil uit te leef nie?

Die bekende skrywer en navorser, George Barna,
het bevind dat die gemiddelde Amerikaanse jongmens
op 13 jarige ouderdom meen hulle weet heeltemal genoeg
van die Bybel af. Min mense se Bybel-vaardighede en
Bybelkennis neem hierna noemenswaardig toe. Barna sê
Amerikaanse Christene is in die greep van Bybel-onkunde
vasgevang! Volwassenes teer na jare steeds op hul beperkte
Bybelkennis en Bybellees-vaardighede wat ongeveer op 13
jarige ouderdom tot ‘n einde gekom het.

In Suid Afrika is die Bybel vir baie mense ook maar net ‘n
boek vol losstaande geestelike tekste wat na willekeur uit
verband gehaal word om eie standpunte, voorkeure en
afkeure te steun. Die Bybel word ook blatant geïgnoreer
wanneer dit nie die kitsantwoorde bring wat mense soek nie.
Die prentjie is waarskynlik nie beter as in Amerika nie. Dit is
ontstellend hoe swak die Bybelkennis by mense is. Is dit dalk
die rede hoekom so min mense uiteindelik God se wil regtig
ken en uitleef?

Ons het ‘n verantwoordelikheid om die Bybel te lees, gereeld
te lees, na God se wil vir ons te soek, en dit uit te leef. Om God
se stem in die Bybel te hoor, vra regtig tyd, toewyding, Bybelstudie,
stiltetyd met die Woord, en gehoorsaamheid aan God se Woord.
Anders bly die Woord van God ‘n geslote boek en God se wil buite
ons bereik!

Kom ons omhels die Woord van God. Kom ons ontdek weer die
voorreg om die Woord van God te lees, die voorreg om daarin deur die
Heilige Gees gelei te word, en die voorreg en verantwoordelikheid om
God se Woord uit te leef. Die groot waarheid van Psalm 1 is dat ons God
se Woord dag en nag moet oordink en so die roete na God se wil vind.
Dan leef ons op die regte pad in sy lewe en sy waarheid. Dan gaan dit
regtig ten diepste met jou goed ten spyte van dit wat in die wêreld
aan die gang is. Die belofte van God wat hiermee gepaardgaan is so
oorweldigend groot, dat ons eenvoudig net dwaas sou wees as ons dit
nie aangryp om elke dag die Woord van God
deel van ons lewe te maak nie!

Ernest