“Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom:
“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan,
want Ek weet hoe sleg hy is.” Jona 1:1-2.
Jona wil die mense na wie God hom stuur,
eerder elimineer as evangeliseer.
Hy het die Assireërs gehaat.
Hulle is Israel se mees gevreesde vyande.
Hulle is genadelose afgodsdienaars.
God stuur dus vir Jona na sy grootste vyande.
Jona probeer hierdie “onredelike” opdrag ontvlug.
Maar God laat dit nie toe nie, en uiteindelik staan hy in Nineve.
Hy lewer God se boodskap koud en saaklik af.
Hy het geen gevoel of empatie met hierdie mense,
wat besig is om verlore te gaan nie.
“Nog net 40 dae,dan word Nineve verwoes.”
Kant en klaar.
Sy hart is nie daarin nie.
En die Assiriërs verootmoedig hulle voor God.
Totaal teen alle verwagting in.
God ontferm Hom oor hulle en besluit om die stad te spaar.
Jona is totaal verbaas, en verontwaardig.
Hy word direk gekonfronteer met God se genade,
sy barmhartigheid, sy lankmoedigheid, sy liefde!
Jona wil hierdie mense verdelg sien.
Maar Jona het ‘n kort geheue.
Is hy nie self onverdiend gespaar en gered nie?!
Ons geheue is net so kort.
Ons veroordeel mense net so maklik soos Jona.
God is God, en nie ‘n mens nie.
So gans anders as ons…
Sal ons nie onsself voor God verootmoedig nie,
oor ons eie selektiewe genade.
Sal ons nie die Heilige Gees toelaat om ons te help nie,
dat ons harte saam met God se hart begin klop vir mense.
Ernest