Soms gaan dit met ons so rof dat ons wonder oor die betekenis daarvan.
Dit voel of ons geen rigting of doel het nie. Dit is baie keer ons omstandighede
waarin ons onsself bevind wat ons roeping aanval! Ons moet baie bedag hierop
wees want die duiwel wil jou beroof van ‘n betekenisvolle en sinvolle lewe in
oorgawe aan die Here. Jou roeping staan direk hiermee in verband.
Die Bybel wil ons hierin rig. As gevolg van jou omstandighede sien jy dit dalk nie
nou raak nie. Dit is ‘n eenvoudige boodskap met soveel trefkrag. Ons lees dit in
1 Petrus 2 vers 9 wat Die Boodskap soos volg vertaal:
“God het julle in die besonder vir Hom gekies.” Dink weer mooi oor wat hier staan!
God het jou in die besonder vir Hóm gekies! Die Almagtige God kies jou! Jy het ‘n
roeping van Hom ontvang! Dit is so groot! Al voel jy nie nou so daaroor nie, as gevolg
van jou omstandighede, moet jy weer hierdie waarheid vasgryp en daaruit lééf!
Jy behoort aan God. Niks wat jy of iemand anders gedoen het kan jou uit God se
hand ruk nie. Die res van vers 9 sê dan verder: “Julle is die mense wat Hy aangestel
het sodat die groot Koning, God, op ‘n besondere manier en reg gedien kan word.
God self het julle sy besondere mense gemaak.” Dit geld vir jou!
Jou waarde kom nie uit hoe jy lyk, watter werk jy doen, hoe dik jou beursie is, of wat
ander mense van jou dink nie. Jou waarde kom uit Wie jou geskep het en herskep het!
God sê jy is besonders, en jy is vir Hom besonders! Uniek geskep deur Hom! Vir sy
Goddelike doel met jou! God self het jou sy besondere mens gemaak! Moenie dat jou
gevoelens jou aan jou neus lei nie. Ook nie jou omstandighede nie. Jy dra die Naam van
die Een wat jou geskep het, in Jesus herskep het, en deur die Heilige Gees in jou woon!
Maak jou oë toe ... en sien jou by God, en God by jou, in jou! Jou waarde is dat God se
Naam oor jou geskryf is! Hy kies jou steeds! Hy gee jou ‘n besondere roeping, vir Hom!
Ernest