Die huwelik is een van die grootste geskenke van God aan die mens.
Dit lyk egter nie asof ons dit besef nie! Kyk net rondom ons hoe huwelike
uitmekaar val. Mense skei. En mense bloei na egskeidings. Hoekom skei so
baie mense? Daar is al soveel navorsing hieroor gedoen. Ons gaan nie in hierdie
navorsing in delf nie... ons weet van allerhande sienings soos “dit is te maklik om
te skei”. Of, “almal doen dit eenvoudig as dit nie vir jou “werk” nie”. Of:
“Ons ego’s het so groot geword dat ons nie meer plek vir mekaar het nie.”

Ons het nie al die antwoorde nie, maar die hartseer is dat die lewe besaai lê met
egskeidings en baie mense met diep seer as gevolg daarvan. Die duiwel weet
hoeveel mense hy letterlik seermaak deur egskeidings... Ja, daar is nie eenvoudige
antwoorde nie. Baie van die probleme in die huwelik is so swaar met bagasie gelaai
dat daar nie eers ‘n stippel van ‘n oplossing op die horison is nie.

Petrus kom gee raad dat ons baie moeite moet doen met ons huwelike. Ons weet
sy raad kom uit ‘n tradisie van die tyd waarin hy geleef het, toe vroue byna gelyk
gestel is aan slawe.
Dit gaan egter oor wedersydse respek en liefde vir mekaar. Dat albei deernis sal hê
vir mekaar se swakhede. Dat albei sal probeer sterk wees waar die ander swak is en
mekaar so aanvul. Dat albei sensitief sal wees vir mekaar se drome en begeertes.
Dat albei eenvoudig ordentlik met mekaar sal praat. Dat albei mekaar sal vergewe.
Dat albei mekaar sal dra in moeilike tye, en nie maar net mekaar verdra nie...

Moontlik is een van die grootste redes vir egskeiding tog die eie ek, die ego, wat in
die pad kom. Die duiwel laat my eie ek gou en vinnig opstaan, en daarom fluister hy
gereeld in my oor: Staan op vir jou regte. Moenie op jou laat trap nie. Die ander een
kry alles en jy maar net die krummels. Staan op! Jy is belangriker as die huwelik.
Moenie daarin versmoor nie. En so gaan dit aan... Natuurlik is daar gevalle waar
onreg letterlik daagliks plaasvind in die huwelik...

Miskien moet ons wegkyk van onsself en op die huwelik as sulks fokus. Ons moet
eerder vra: Waar kan ek dien? Hoe kan ek dien? Hoe kan ek die minste wees ter
wille van die groter saak as my ego? Hoe kan ek regtig ‘n goeie eggenoot wees?
Alles is nie maklike vrae met eenvoudige antwoorde nie. Vra maar vir die mense
wat platgetrap word in hulle huwelike. Hulle kan net nie meer nie, veral as hulle
sien hoe die kinders ly...

Ons moet net weer besef die huwelik is goud van God. Een van die waardevolste
geskenke wat God aan ons gee. Hy vertrou jou met jou huweliksmaat wat Hy aan
jou gee, en Hy vertrou jou met jou huwelik wat groter is as jy en jou ego. Skep daar
‘n veilige hawe vir mekaar en vir kinders. Koester mekaar. Stoot bietjie jou ego,
wat so groot is dat daar nie plek vir ander is nie, op die agtergrond.
Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig en respekteer mekaar.
Plaas opnuut vir God in die middelpunt van jou huwelik... in die plek waar jy en
jou ego moontlik tans die hele plek volstaan. Eer Hom bo alles met jou huwelik,
in plaas daarvan dat jy die “god” geraak het van jou huwelik...

Ernest